Polisiebeamptes getuig oor ontsnapping na moord op Oosthuizen
Die Seshego Streekhof het Maandag gehoor hoe die moordverdagte, Alex Chauke in November 2015, uit die Polokwane Polisiestasie se aanhoudingselle ontsnap het na sy aanvanklike inhegtenisneming in Oktober. Chauke wie se verhoor Maandag begin het, word daarvan verdink dat hy in Mei 2015 vir Ignat Oosthuizen noodlottig tydens ‘n huisbraak in Serala Village gewond het. …

Die Seshego Streekhof het Maandag gehoor hoe die moordverdagte, Alex Chauke in November 2015, uit die Polokwane Polisiestasie se aanhoudingselle ontsnap het na sy aanvanklike inhegtenisneming in Oktober.
Chauke wie se verhoor Maandag begin het, word daarvan verdink dat hy in Mei 2015 vir Ignat Oosthuizen noodlottig tydens ‘n huisbraak in Serala Village gewond het.
Benewens moord staar hy ook ‘n aanklag van ontsnapping in die gesig. Die staat het twee polisiebeamptes na die getuiebank geroep om klarigheid te kry oor wat presies dié dag gebeur het.
Maphuti Machaka en Izekiel Senosha was aan diens.
“Ek het ‘n geraas by die aanhoudingselle gehoor en ondersoek ingestel waarna ek meegedeel is dat Chauke ontsnap het, maar kan nie sê wat presies gebeur het nie. Ek en ‘n kollega het dadelik in ‘n voertuig geklim om hom agterna te sit,” het Machaka gesê. Ooggetuies het hulle na bewering in die rigting van ‘n kafee in Thabo Mbekistraat gewys. Daar gestop het sy gesien hoe ‘n ander polisielid vir Chauke jaag, vastrek en arresteer. Sy kon nie duidelikheid gee oor hoe Chauke daarin geslaag het om te ontsnap nie.
Senosha wat intussen afgetree het, het gesê Chauke was onder die eerste groep verdagtes wat hy na die hof moes vervoer. Hy was glo besig om vir ‘n kollega vir voetboeie vir Chauke te vra toe hy glo by die oop seldeur uithardloop. Hy kon nie sê wie hom weer gearresteer het nie, maar het wel later by die hof gesien dat Chauke weer in aanhouding is en het hom al verskeie keer na die hof en terug selle toe vergesel.
Chauke se regsverteenwoordiger het beweer dat haar kliënt glo in die selle deur lede van die polisie aangerand is, maar Senosha het gesê dat hy nooit enige wonde of beserings aan hom opgemerk het nie.
‘n Derde getuie kon nie die hofverrigtinge bywoon nie waarna die saak tot Augustus uitgestel is.
‘n Bakleiery het glo die aand van Ignat se dood tussen hom en Chauke ontstaan waartydens Ignat onder sy sleutelbeen en in sy arm met ‘n skerp voorwerp gesteek is en op die toneel beswyk het.
Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com



