Verliefdes maak plan vir matriekafskeidrok
Ignatius Rademeyer het besluit om sy matriekafskeid spesiaal te maak vir sy meisie.
POLOKWANE – Met breë glimlagte en glinsterende oë net vir mekaar, verskil Ignatius Rademeyer en Charné Steyl nie baie van ander verliefde tieners nie, tog het Ignatius besluit om hulle matriekafskeid spesiaal te maak.
Jonk, vol drome en dolverlief is Ignatius ‘n gr. 12-leerder van Tom Naudé terwyl Charné tuisonderrig ontvang.
Hulle het mekaar deur sosiale media en gemeenskaplike vriende ontmoet en gedurende die afgelope skoolvakansie mekaar beter leer ken.
Met Ignatius se matriekafskeid om die draai op 28 September het hy besluit om vir Charné as sy metgesel te nooi.
Opgewonde het Charné ingestem, maar die paartjie het vinnig besef hoe duur dit gaan wees om ‘n aandrok vir die aangeleentheid te kry.
“Ons samel nou geld in om vir Charné se droomrok te betaal. Ek begin September by Polokwane Splash werk en gaan al die geld wat ek daar maak gebruik, maar ek is bang dat dit nie genoeg gaan wees nie. Ek gebruik ook my sakgeld,” vertel Ignatius.
Hy het by verkeersligte blikgeskud, maar aangesien dit teen die skool se beleid is dat leerders sonder toesig blikskud vir veiligheidsredes, moes Ignatius dit staak.
Die paartjie spandeer soveel as moontlik tyd by mekaar en Ignatius vertel dat Charné se persoonlikheid, en die feit dat sy anders as ander meisies is, hom bekoor.
“Ek het nog nooit iemand soos sy ontmoet nie. Sy aanvaar my vir wie ek is.”
Charné vertel weer dat Ignatius se onskuldige, aantreklike voorkoms hom vir haar onweerstaanbaar maak.
“Soms maak hy my woedend maar steeds bly ek lief vir hom,” glimlag sy.
Die droomrok wat Charné se oog gevang het kos R1 400 om te huur by ‘n bekende ontwerper in die stad.
Erika Mengouchi en haar familie is jarelange vriende van Ignatius se familie en sy borg Ignatius se klere vir die geleentheid.




