Local NewsNews

Passie vir ‘oues’ hou Mariana jonk

Daar mag dalk gesê word om na die ouer garde om te sien is ‘n moeilike taak, maar vir Mariana van Tonder (57) is dit ‘n passie en sy deel hierdie liefde van haar elke dag met die inwoners van die Piet Potgieter Monument Ouetehuis.

MOKOPANE – Mariana is ‘n hartsmens en die bejaardes se welstand en doen en late in die ouetehuis verskaf vir haar groot vreugde.
Sy vertel sy is in Mokopane gebore en getoë en is vandag die trotse ma van drie kinders en ouma van drie kleinkinders.
Sy het na skool besluit om maatskaplike werk aan die Universiteit van Pretoria te studeer nadat sy besef het dat sy graag ‘n verskil in ander se lewens wil maak.
Sy het in 2004 haar meestersgraad in maatskaplike werke en bestuur verwerf.
“Ek het al voorheen talle armes en hartseer mense gesien en dit lê my na aan die hart om seker te maak dat daar na hulle gekyk word.”
Mariana het in 1986 die Potgietersrus Dienssentrum vir Bejaardes se deure oopgemaak en het later na die ouetehuis geskuif waar sy steeds vandag is.
Tans is daar 210 inwoners waarna omgesien word.
“Dit is baie lekker om saam met die inwoners te werk. Soveel mense stereotipeer ‘n tehuis as ‘n slegte plek, maar dit is nie die geval by ons nie.
“Ons maak hierdie ons huis en ons is almal soos ‘n groot familie. Ek probeer altyd my bes om die atmosfeer vriendelik en genotvol te hou.
“Dit is ook hoekom ek projekte soos die liggiefees aanbied. Dit hou die bejaardes positief. Mense wat sleg dink van die tehuis moet een dag kom inloer of iets kom eet, dan sal hul sien hoe dit werklik is.
“Die swaarste wat ek gereeld beleef is wanneer kinders hul ouers wat hier bly afskryf en nie ondersteun nie. Ek vind dit moeilik om soms met emosionele seer te werk.
“Ek kan my alles aan die bejaardes gee maar ek kan ongelukkig nie die plek van hul kind inneem nie.”
Deel van haar loopbaanreis was ‘n draai wat sy by Unisa gemaak het as die Provinsiale Departementshoof van Maatskaplike Werke.
“Ek is versot op kennis bou en ek glo dat geen mens moet stagneer nie. Hoe meer ‘n mens leer hoe meer kom jy agter dat jy eintlik niks weet nie.”
Sy is ook deel van die Kierieklapper Kunstefees se bestuur en was deel van die eerste bestuur wat dié jaarlikse fees aan Mokopane bekendgestel het. In haar vrye tyd geniet sy borduur en kunsnaaldwerk.
Sy merk ook steeds studentevraestelle wanneer sy kan.
Haar motivering in die lewe is om uit dankbaarheid te lewe.
“Ek het op dit besluit omdat die Here so goed is vir my.” Sy glo ook dat familie die lewe die moeite werd maak.
lionel@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button