Local NewsNews

‘Ons is sterk, vat dit dag vir dag’ – Bantjes-kinders

“My ouers was sterk mense en het ons geleer om dieselfde te wees. Ons pak een dag op ‘n slag aan.” Dit is hoe geliefde Polokwane-egpaar, Pierre (44) en Erika Bantjes (44), wat Vrydag op die N1 naby Kranskop in ‘n botsing oorlede is, se dogter, Zulithe, die pad vorentoe sonder haar ouers beskryf. Sy …

“My ouers was sterk mense en het ons geleer om dieselfde te wees. Ons pak een dag op ‘n slag aan.”
Dit is hoe geliefde Polokwane-egpaar, Pierre (44) en Erika Bantjes (44), wat Vrydag op die N1 naby Kranskop in ‘n botsing oorlede is, se dogter, Zulithe, die pad vorentoe sonder haar ouers beskryf. Sy het gister (Woensdag) 17 jaar oud geword.
Pierre en Erika en 24 ander mense is dood nadat ‘n vragmotorbestuurder wat in ‘n noordelike rigting gery het, waarskynlik beheer oor die voertuig verloor en voor aankomende verkeer beland het. Vyf voertuie was in die botsing betrokke.
Zulithe en haar broer, Altus (14), is onderskeidelik leerders aan Afrikaanse Hoër Meisieskool en Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies). Zulithe was Vrydag reeds in Krugerdorp vir ‘n sêr-opvoering terwyl haar niggie, Rumandi en Altus, in Pretoria op die egpaar vanaf Polokwane gewag het om hul op te laai en dan na Krugersdorp vir die kompetisie te vergesel.
Rumandi het haar ma en Erika se suster, Colinda Potgieter, na 14:00 geskakel en gesê die egpaar het nog nie opgedaag nie. “‘n Werknemer van Erika het na haar selfoon geskakel en ‘n man op die ongelukstoneel het geantwoord. Sy het geskrik en die foon neergesit. Intussen het Renier Fourie van Louis Trichardt op die toneel aangekom en aangebied om verantwoordelikheid vir Erika se selfoon te neem en die familie se navrae te beantwoord,” sê Colinda.
Fourie het haar oproep kort daarna beantwoord en gevra wat haar verband met Erika is. “Ek het gesê sy is my suster waarna hy my die hartseernuus meegedeel het en ek die foon vir my man, Martin, gegee het om verder te praat.”
Zulithe het eers na die sêr-vertoning haar foon aangeskakel. “Ek het ‘n boodskap van ‘n tannie gekry wat sê sy is jammer om te hoor van my ouers. Rumandi en Altus het agter die verhoog gewag en my ook die slegte nuus meegedeel.” Zulithe sê haar ma het ‘n groot hart gehad wat hul altyd ondersteun het, maak nie saak hoe belaglik hul kinderdrome was nie. “My pa was die kalm een. My ma het altyd gesê daar is nie ‘n ander man wat haar sou kon hanteer nie,” sê Zulithe.
Colinda tree voortaan as voog van die kinders op. “Ek doen dit met liefde. My suster was ‘n georganiseerde persoon en alles van die kinders is in plek. Hulle gaan by Affies aanbly en ek sal alles in my vermoë doen om hulle gelukkig te maak.”
Erika en Pierre was 20 jaar getroud. Sy het in 2005 Salon Deo Volente begin terwyl Pierre die afgelope drie jaar as poli­grafis werksaam was. Erika was ook ‘n kranige atleet wat 15 keer die Comrades Marathon gehardloop het.
Colinda en haar broer, Johan van der Merwe, sê Erika was iemand wat alles in oordaad vir mense wat hulp nodig het wou doen. “Baie mense sal sê hulle het koppe met haar gestamp, maar dit is omdat sy in haar poging en gretigheid om te help, op ander se tone getrap het. Met sy standvastigheid en intelligensie was Pierre die rots in die gesin,” meen die sibbe.
Erika se pa, Gert Nolte, sê Erika was beneuk, maar ‘n reguit en eerlike persoon terwyl Pierre die sagmoedige een was.
Die familie ontvang ongelooflike ondersteu­ning van beide skole en die plaaslike gemeenskap. “Ons het oproepe van regoor die land ontvang. Die ondersteuning van die plaaslike regering is ook uitstekend en hulle het dadelik professionele beraders aan die familie beskikbaar gestel. Ons het weer eens besef hoe geliefd Pierre en Erika in die gemeenskap was,” sê Colinda.
Benewens Colinda, Johan, haar pa en kinders, laat Erika ook ‘n halfbroer, Alberto Nolte en halfsusters, Natasha Nolte en Janelle Smit agter. Pierre laat sy ma, Miems, agter.
‘n Gedenkdiens word môre (Vrydag) om 10:00 vanuit die Agapé Christengemeente in Kiddslaan vir die egpaar gehou.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Die ongelukstoneel op die N1 naby Kranskop waarin 26 mense waaronder, Pierre en Erika Bantjes, Vrydag oorlede is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button