Rizel vang kosbare oomblikke vas
Rizel Grobler is al 18 jaar in die bedryf van fotos neem en spesiale oomblikke op kamera vasvang en werk graag saam met skole in die stad.
POLOKWANE – ‘n Spesiale oomblik kan in ‘n oogwink verby wees indien iemand nie só oomblik vasvang nie. Rizel Grobler is al 18 jaar in die bedryf van fotos neem en spesiale oomblikke op kamera vasvang en werk graag saam met skole in die stad.
Rizel is betrokke by verskillende geleenthede waar sy veral troues vasvang sodat dit vir altyd gekoester kan word.
Sy vertel dat alles begin het toe haar kinders nog klein was. “Ek wou graag ‘n beroep hê maar ek beskikbaar kon wees wanneer my kinders iets nodig het. Ek wou in beheer wees van my eie ure en my betrokkenheid by fotografie het dit moontlik gemaak,” vertel sy.
Rizel geniet dit vreeslik om by mense se huise aan te kom waar fotos wat sy geneem het teen die muur hang. Sy noem dat sy soms meer opgewonde as die mense wie se fotos sy geneem het, is om die fotos te sien en dit aan hulle te wys.
Die grootste uitdaging in haar beroep is vir haar of die weer gaan saam werk met die fotos wat sy beplan. Haar raad aan iemand wat fotos wil neem is om nie duur toerusting aan te skaf nie. “Duurder kameras maak nie beter fotos nie. Kry ‘n redelike kamera teen ‘n redelike prys en oefen, oefen, oefen,” raai sy aan.
Om haarself te beskryf vertel sy is moeilik maar sy voeg vinnig by dat sy verstrooid en baie lojaal is. Vriende is vir haar kosbaar en sy is baie ernstig oor beloftes maak en hou.
Buiten vir fotos neem is sy lief daarvoor om boek te lees of te gaan fliek, maar sorg altyd dat sy eers tyd saam haar gesin spandeer.
“Fotografie is beslis ‘n goeie opsie as beroep want ons lewe meer en meer in ‘n visuele wêreld. Jy moet egter meer as die gewone ou insit om uit te staan want elke tweede een met ‘n kamera is ‘n fotograaf,” vertel sy.




