Almal is ‘n wenner in dié plaaslike lootjieprojek
Polokwane Troeteldierhulp se projekleiers het 'n geldinsamelingsinisiatief geloods en al wen jy nie 'n groot prys nie, is jy steeds ‘n wenner van 'n geskenkbewys

POLOKWANE – Polokwane Troeteldierhulp is ‘n plaaslike projek waarin mense wat behoeftig is, se troeteldiere gehelp word.
Daar is waentjies by verskeie winkels in die stad, onder andere Spar Platinum Park, NJ Fresh en Spar Marshall Straat, waarin inkopiegangers items kan plaas vir gesinne in nood.
Lees meer: Diereliefhebbers in die knyp: só kan jy help
Die projekleiers het besluit om ‘n geldinsamelingsinisiatief te loods waar ‘n mens alles kan wen wat jy gedurende die grendeltydperk misgeloop het. Karina Botha, organiseerder, verduidelik:
“‘n Kaartjie kos R50. Wanneer jy die geld na die projek se rekening oorbetaal het, stuur jy vir my ‘n WhatsApp boodskap met jou naam en van, wat ook die verwysing van die oorbetaling is, sodat ek jou nommer kan bewaar vir wanneer die lootjies getrek word.”
Die is nie sommer ‘n gewone trekking nie, verduidelik sy.
“Ons gaan nie een wenner hê nie maar gaan meer soos Kersvader in die winter wees. Ons mik om soveel moontlik pryse te kry.”
Die hoeveelheid pryse sal bepaal hoeveel wenners daar is. Die eerste wenner wie se naam getrek word, kan kies watter prys hy of sy wil hê. Sodoende kry elkeen ‘n beurt om te kies, behalwe die laaste persoon.
“Ons beoog om die trekking regstreeks te hou deur Zoom of Facebook Live. As jou naam nie getrek word nie, is jy steeds ‘n wenner. Een van die kleiner besighede het vir almal wat oorbly ‘n geskenkbewys geskenk, so tegnies is almal ‘n wenner.”
Karina verduidelik alhoewel die geld gebruik gaan word om vir die behoeftige diere kos te koop, is dit ook ‘n geleentheid om blootstelling aan klein besighede te gee.
“Hopelik gee die geleentheid elke besigheid die kans om ‘n kliënt of drie by te kry.”
Om deel te wees van die projek, kontak Karina by 082 4251 779 of stuur ‘n WhatsApp.
“Ons hoop om soveel as moontlik plaaslike besighede te help om weer ‘n ordentlike kliënte basis te kry. Indien jy ‘n prys wil borg, stuur die besigheidsnaam, die prys wat geborg word, die waarde daarvan en ‘n logo wat ons mag gebruik na my toe. Die pryse word getrek wanneer vlak een van die grendeltyd aangekondig word.”
Pryse wat reeds geborg is sluit ‘n biltong-geskenkbewys, ‘n naweek weg en ‘n fotosessie in.




