Local News

Die impak van teveel skole skuif is dalk groter as wat mens dink

Review gesels met Juanita Marx oor die effek gereelde skoolverandering op 'n kind kan hê en wat om ingedagte te hou voordat die kind oorgeskuif word.

POLOKWANE – Wanneer jy as ouer jou kind vir die eerste keer by ‘n skool inskryf, is jou plan gewoonlik nie om hulle kort-kort na ‘n nuwe skool te skuif nie.

Maar soms gebeur die lewe; julle word verplaas of ‘n beter geleentheid is op jou horizon.

Jou kinders is nie vreeslik entoesiasties oor die skuif nie, maar jy stel hulle gerus dat hulle gou weer maatjies sal maak.

Tog is dit nie ‘n gegewe nie en sukkel meeste kinders met dié verandering.

Review het met Juanita Marx gesels oor die effek wat gereelde skoolverandering op kinders kan hê.

“Op ‘n skaal van een tot 10 op die trauma lys, lê die verandering van skole so hoog soos nege en selfs 10. Dit is gelyk aan die tipe trauma wat jy ervaar as iemand na aan jou dood gaan, of jou ouers skei.”

Aangesien vriendekringe reeds gevorm het, moet die kind nou weer van voor af aanpas en nuwe vriende kies, verduidelik sy.

Dit is nie so maklik soos dit klink nie, veral as jou kind nie sportief of baie sosiaal is nie.

Om dus deel te word van ‘n nuwe vriendekring, is baie traumaties vir hulle.

Soms is die skuif net van een gebou na ‘n volgende, maar die kind vind dit traumaties.

Die skool is die kind se veilige en bekende plek wat dan van hulle af weggeneem word.

“Die aanpassing van gr. 7 na gr. 8 is net so traumaties vir ‘n kind. Baie kinders wat uit ‘n skool uitgehaal is om tuisondering te kry en dan weer moet terug gaan in die skool sisteem, vind die skuif moeilik en hulle pas nie sosiaal aan nie.”

Wanneer jou kind van skool moet verander is daar baie ander dinge wat ook verander.

Die nuwe dorp wat hulle nie ken nie, die reisreëlings na en vanaf die skool, selfs die sport en buitemuurse aktiwiteite kan anders wees as wat jou kind aan gewoond is.

Om van skool te verander kan vir ‘n kind baie opwindend klink, maar die negatiewe gevoelens soos spanning is ook daar.

Jou eens-uitbundige kind is nou skielik doodstil en skaam.

Hulle selfbeeld is baie laag en hulle punte nog laer.

Hoe maak jy die verandering bietjie makliker vir jou kind?

• Betrek hulle by die beplanning van die trek, nuwe skool en nuwe huis.

• Verduidelik vir hom die redes agter die skuif van skole. Baie mense aanvaar verandering makliker as hulle verstaan waaroor dit gaan.

• As jy kan, neem jou kind om die nuwe skool se personeel te ontmoet. Om te weet wat hy kan verwag maak die spanning minder.

• Gesels met jou kind voor en na skool om negatiewe gedragspatrone te verminder.

• Moedig jou kind aan om kontak met sy ou vriende te behou.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button