Vol sirkel vir Polokwane veearts Michelle
Dié arts, wat onlangs by die Mollie Hawken Dierekliniek begin werk het, het haar skoolloopbaan op Polokwane-bodem voltooi.
POLOKWANE – Onbewus van die uitdagings wat sou volg, het Michelle Schoeman haar verpligte gemeenskapsdiens destyds in Prieska aangepak.
Met beperkte hulpmiddels moes sy dikwels kreatiewe planne maak om die diere in die gemeenskap te help.
Op 11 Augustus vanjaar het sy by die DBV se Mollie Hawkens Dierekliniek in Polokwane begin werk.
Daar is sy steeds deel van uitreikingsveldtogte, dikwels in armer gemeenskappe waar improvisering en deursettingsvermoë noodsaaklik is.
Michelle het haar skoolloopbaan in Polokwane voltooi en tydens haar studies by Onderstepoort reeds baie ure by die Mollie Hawken Kliniek gewerk.
Toe sy ná haar gemeenskapsdiens terugkeer huis toe, was dit ‘n seën dat daar ‘n pos by die kliniek oop was.

“Ek wou nog altyd ‘n veearts wees. Ek het ‘n liefde vir verwaarloosde diere en geniet dit om in primêre dieregesondheid te werk. My take sluit basiese kliniese ondersoeke en sterilisasies in. Ek droom ook daarvan om eendag my eie praktyk oop te maak,” vertel sy.
Volgens Michelle maak dit nie saak in watter toestand ‘n dier is nie – as hy hulp nodig het, sal sy probeer help.
“Dit gaan uiteindelik oor die dier se welstand. Soms moet jy jouself van jou emosies distansieer. As jy weet jy kan nie help nie en die dier ly, is dit beter om hom van kant te maak. Dit bly ‘n moeilike besluit, maar beperkte hulpbronne dwing jou soms daartoe,” verduidelik sy.
Sy beklemtoon die belangrikheid van sterilisasie en hoop om die gemeenskap meer by die DBV betrokke te kry.
“Een van die grootste wanopvattings is dat die DBV sommer net diere uitsit. Dit is nie waar nie. As meer mense bereid is om aan te neem, sal die hokke leër wees,” sê sy.
Michelle herinner verder dat inentings, veral teen katgriep, baie siektes kan voorkom en haar werk vergemaklik.
Sy moedig eienaars ook aan om hul troeteldiere aan die dra van harnasse gewoond te maak, en hulle soms te bring vir ‘n vriendelike besoek, sodat dit mettertyd minder stresvol is tydens ondersoeke.
Alhoewel sy nog nie lank praktiseer nie, is daar reeds ‘n geval wat sy nooit sal vergeet nie: “In Prieska het ‘n hond met ‘n baarmoederinfeksie ingebring. Die eienaar wou haar laat uitsit omdat hy nie die geld gehad het vir behandeling nie. Ek het besluit om dit te waag. Ná ure se operasie het sy oorleef, en dis ‘n oomblik wat ek altyd sal onthou.”




