Local News

‘n Reis van familie en selfontdekking

Na ’n kinderjare vol verlies, verlate oomblikke en uitdagings, het ‘n plaaslike vrou uiteindelik haar biologiese familie opgespoor en vind sy vrede, terwyl sy dankbaar terugkyk op die liefde van die mense wat haar as familie aanvaar het.

POLOKWANE – Om ’n kind aan te neem is nooit ’n besluit wat oornag geneem word nie, en om jou kind te laat aanneem, is net so emosioneel uitdagend.

Soms is die proses ’n nagmerrie, gevul met trane, pyn, verlange en onsekerheid. Vir Amanda Thorne*, ‘n inwoner van Polokwane, was haar pad deur aanneemprosesse een van jare se hartseer en struikelblokke, maar uiteindelik ook van heling en hoop.

Amanda is op twee weke oud aangeneem en haar geboortenaam is verander.

Twee jaar later is ’n seuntjie by die gesin ingeneem. Wat na ’n gelukkige gesin moes lyk, het egter gou begin verbrokkel.

“My pa was byna nooit tuis nie en my ma was aan dwelms verslaaf. Ek het op 11-jarige ouderdom self dwelms begin gebruik. My ouers het geskei toe ek nege was en my pa het weer getrou. Ek en my stiefma het nooit oor die weg gekom nie, en op ’n dag het ek vir my pa gevra om te kies. Hy het my uiteindelik by ’n hotel afgelaai en ek moes self oorleef.”

In haar vroeë 20’s het Amanda self twee kinders gehad, en die lewe se terugslae het nie opgehou nie.

Op 27 het sy haar broer aan selfdood verloor. Kort daarna het sy uitgevind dat hulle nie biologies verwant was nie.

“Dit was ’n groot skok, maar ek het besluit om terug te baklei. Ek het kursusse voltooi en aanhou werk aan myself. Deur die jare het ek mense ontmoet wat my soos familie behandel het. Hulle was my anker toe ek nêrens behoort het nie.”

In 2024 het Amanda gevoel sy is gereed om haar biologiese familie te soek.

“Ek wou weet waar ek vandaan kom, vir my eie vrede, maar ook vir my kinders.”

Met net haar geboortedatum en oorspronklike naam, het sy die Registrateur van Aannemings gekontak.

Drie maande later het sy ontdek dat haar biologiese ma destyds ’n kontrak onderteken het wat haar besonderhede beskerm.

Deur ’n DNS-toets en hulp van ’n buurman het sy uiteindelik haar ma opgespoor, maar sy het gekies om geen kontak te hê nie.

Onverwagse nuus het egter gevolg: ’n vrou uit Engeland het haar gekontak en verduidelik dat die DNS van haar dogter aandui dat sy Amanda se tannie is en sodoende het sy uiteindelik haar biologiese pa en broer opgespoor.

“My pa woon in Suid-Afrika, en ons het ses maande gelede ontmoet. Ons verhouding groei elke dag. My broer woon in Londen en kom hierdie Desember kuier.”

Amanda sê sy weet nou waar haar wortels lê: “Ek is ongelooflik dankbaar vir elkeen wat my as familie aanvaar het, bloedverwant of nie.”

Sy beplan om haar verhaal binnekort in ’n boek te deel, ’n eerlike weergawe van haar reis van pyn na aanvaarding. “’n Bittersoet storie met ’n gelukkige einde, en die begin van ’n nuwe hoofstuk.”

* Nie haar regte naam nie.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Maretha Swanepoel

My name is Maretha Swanepoel and I have worked at the Polokwane Review since 2012. The decision to become a journalist came at 04:00 one Friday morning while watching news of bombings in Afghanistan and I realised I wanted to be there. Some years later, I decided to rather stay in South Africa and join the industry due to my love for writing and curiosity. Even though I can write all beats, I love human interest and community news with some schools added to the mix. Telling someone’s story and using my camera to make memories is a privilege. My interests include animals (especially dogs) and mental health. I like to spend my time with my dogs and a good book. My family is important and takes second place in my heart. God is always first.

Related Articles

Back to top button