juf. Marli pak haar tasse vir Europa
Marli Oosthuizen vertrek na Duitsland op 31 Augustus en land op 1 September – net betyds vir die Duitse skooljaar wat op 2 September begin.
POLOKWANE- Jare gelede het Marli Oosthuizen haar CV sonder veel verwagting aan ‘n internasionale skool in Augsburg, Duitsland gestuur.
Sy het haar wel intussen by Hoërskool Pietersburg gevestig en dié droom vir eers laat gaan. Tot onlangs, toe daar ‘n pos by dieselfde skool in Duitsland oopgaan. Marli het besluit: die tyd het gekom om haar vlerke te sprei.
“Die tydsberekening was nie perfek nie, maar ek wou nog altyd in Europa woon. Hierdie droom leef al van gr. 7 af, toe ek die eerste keer ‘The Sound of Music’ gekyk het.”
Sy vertrek na Duitsland op 31 Augustus en land op 1 September – net betyds vir die Duitse skooljaar wat op 2 September begin.
Sy gaan English Language and Literature, sowel as drama aanbied. “Dit was nie ‘n maklike besluit nie, inteendeel, een van die moeilikste van my lewe.
“Ek is ongelooflik gelukkig by PHS en dit was die beste tyd van my onderwysloopbaan. Maar ek moes dink aan die lewenskwaliteit wat Europa vir my as vrou en onderwyser kan bied. En die reisgeleenthede! Van Augsburg af kan ek binne een uur per trein in vier verskillende lande wees.”
Sy gaan in Beiere woon, tussen die berge en woude, en deel in die opbou van die skool se nuwe kampus en teater. Marli sal verantwoordelik wees vir die regie van skoolproduksies en bestuur van die teater tydens professionele produksies.
“Ek is uit my vel uit opgewonde daaroor! Ek gaan steeds toneelstukke skryf, en allerlei ander klein konserte doen vir die beste skool in Limpopo,” skerts sy.
Oor wat sy wil hê haar leerders moet onthou, antwoord sy speels: “Die Engelsklas moet weet waar om afkappingstekens te sit, en die dramaleerders moet hul swart klere onthou!” Maar dan voeg sy ernstig by: “Ek wil hê hulle moet onthou dat elkeen van hulle saakmaak. En dat hulle moet ‘kind’ wees – met hulleself en met mekaar.”
Vir Marli is drama veel meer as ‘n vak. “Drama maak spasie. Vir al die dele van jouself – selfs dié wat jy probeer wegsteek of nog nie ontdek het nie. Dit laat nuwe wêrelde oopgaan, selfs al woon jy in ‘n klein dorpie. Dit leer jou om mooi te praat én mooi te dink.”
Sy glo die kern van goeie drama-onderrig lê in verhoudings.
“Voor jou sit kinders wat bang is. Leer hulle ken. Bou hul selfvertroue. Kyk hoe blom hulle.”
Een van haar kosbaarste herinneringe is hoe sy elke jaar ten minste twee keer tydens ‘n Kardoesie-oefening gehuil het – nie van stres nie, maar omdat sy sien hoe kinders wat nêrens anders hul plek kry nie, op die verhoog skitter.
“Vir een aand maak hulle saak. Hoe kan dit jou nie laat huil nie?”
Haar raad aan die volgende drama-onderwyser?
“Wees gaaf. Almal sukkel agter geslote deure, moenie dit nóg moeiliker maak nie. Daar sit kinders voor jou wat bars van potensiaal. Sien dit raak, en jy sal sien hoe dit in iets wonderliks ontwikkel.”
Sou sy ooit ‘n eenmanvertoning skryf, sê sy, sal die titel beslis wees ‘Laat dit Juig!’.
“Die lewe is kort, soms bitter. Gebruik elke kans wat jy kry om dit te laat juig.”
Gaan gou goed daar in die vreemde, juffrou Marli!




