Schools

Wilhelm pen sy drome op stoeimat vas

Toe Wilhelm von Ludwig ses jaar oud was, het sy ouers besluit om hom by die Ion Baciu Stoeiklub in te skryf, en vandag, op 14, wen hy toernooie en maak hy sy ouers, afrigters en skool trots.

POLOKWANE – Die meeste jong seuns hou daarvan om te stoei, maar vir Wilhelm von Ludwig het dit vinnig meer as net speel-speel geword.

Toe hy ses jaar oud was, het sy ouers besluit om hom by die Ion Baciu Stoeiklub in te skryf, en vandag, op 14, wen hy toernooie en maak hy sy ouers, afrigters en skool trots.

“Ek was aan die begin maar senuweeagtig, Oom Jan was kwaai,” vertel hy laggend. “Maar toe leer ek hom ken en besef hy’s eintlik nie so kwaai nie. Nou oefen ek van Maandae tot Donderdae, van 17:00 tot 19:00. Ons afrigting is so goed, dit maak die stoei makliker.”

Wilhelm het in Mei ‘n goue medalje gewen in die o/15-vrystylafdeling by die Vrystaat Ope Stoeitoernooi.

Hy sê respek en selfbeheersing is belangrik in stoei, of dit nou vir jou opponent of jou afrigter is. “En as jy ‘n mooi meisie sien stap,” sê hy met ‘n glimlag, “moet jy eers jou geveg klaarmaak voor jy met haar gaan praat.”

Wilhelm von Ludwig nadat hy goud by die Vrystaan Ope Stoeitoernooi gewen het.

Hy berei homself voor deur met homself te praat en sy kop reg te kry. “Ek dink altyd aan die einddoel, veral as ek teen iemand sterker stoei. Dis daardie beloning wat my motiveer.”

Sy gunsteling tegniek? “Enige een wat werk!” sê hy. En hoewel hy al menigte medaljes gewen het, bly hy nederig. “As ek wen, is ek natuurlik bly. As ek verloor, sê ek vir myself: volgende keer doen ek beter. Ek is dankbaar vir my ouers, hulle ondersteun my die meeste.”

Na ‘n wedstryd gun hy homself ‘n McDonald’s-ete, terwyl sy vriende glo hy is baie sterker as wat hy lyk. Sy volgende groot uitdaging? Die Afrika Kontinentale Kampioenskappe, en dan die Wêreld Junior Kampioen-skappe.

“Ek raai almal aan om by Oom Jan se klas aan te sluit. Dis lekker, en dis van die beste oefening wat jy kan kry.”

Afrigter Jan Roets glo ook Wilhelm is op pad na groot dinge. “Hy was verlede jaar Suid-Afrikaanse kampioen en hy werk ongelooflik hard. Ons sien uit om hom binnekort in die nasionale span te hê.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button