Fietser Daniel (14) droom van Tour de France
Daniel Dreyer (14), 'n gr. 8-leerder aan Hoërskool Pietersburg is 'n trotse lid van die skool se fietsryspan.
POLOKWANE – Om as laerskoolkind na ‘n nuwe skool in ‘n vreemde dorp te verhuis, is nie altyd maklik nie.
Maar toe Daniel Dreyer (14) en sy gesin ‘n paar jaar gelede na Polokwane trek, het hy besluit om die beste daarvan te maak.
“Ek het gehoor dat Oosskool, waar ek ingeskryf was, fietsry as sport aanbied, en ek het besluit om deel te neem,” vertel hy.
Vandag is Daniel ‘n gr. 8-leerder aan Hoërskool Pietersburg en ‘n trotse lid van die skool se fietsryspan. Sy eerste oorwinning was tydens die Skolereeks vroeër in 2024. “Dit was baie lekker en ‘n groot stap in die regte rigting,” sê hy.
Hy het onlangs ook die Tshipise MTB Challenge gewen waar hy eerste in die sub-junior kategorie geëindig het. Hierdie kategorie dek ‘n afstand van 35 km.
Vandat die jaar begin het, het Daniel reeds sowat 10 goue medaljes ingepalm – en verlede jaar was nie anders nie. “Wanneer ek oor die wenstreep ry, is ek bly en baie trots op myself,” sê hy. Hy oefen agt keer per week, waarvan twee sessies op Woensdae plaasvind.
“Ek bly gemotiveerd deur te fokus op die moontlike uitslae wat ek kan behaal. Dit gee my weer moed om aan te hou oefen en aan wedrenne deel te neem,” sê hy. Voor ‘n wedren warm hy op deur sy spiere te rol, te strek, asemhalingsoefeninge te doen en rustige musiek te luister. Soms besoek hy ook ‘n fisioterapeut.
En ja, ongelukke is deel van die sport. “Ek het al baie geval,” sê Daniel met ‘n lag. “Verlede jaar het ek albei my arms gebreek – die een sleutelbeen, en die ander se gewrig.”
Op wedrendag begin hy sy dag met hawermout, drie uur voor die aanvang van die wedren. “’n Uur voor die fluitjie blaas, drink ek ‘n ‘smoothie’ vir ekstra energie,” sê hy. Net voor opwarming doen hy weer asemhalingsoefeninge en luister musiek.
“Wanneer ek moeg raak, hou ek die eindstreep as ‘n wortel voor my neus en dit gee my weer krag.”
Hy is dankbaar vir sy ouers se ondersteuning: “Hulle is altyd daar vir my.”
Daniel bewonder Jonas Vingegaard, die tweemalige wenner van die Tour de France. Sy gunstelingwedren is die Karkloof Youth Festival en hy droom daarvan om eendag self aan die Tour de France deel te neem.




