Tiaan Haasbroek: Witwarm voor die paaltjies en met bal in hand
Op 6 September het die span teen Hoërskool Eric Louw gespeel, waar Tiaan as derde kolwer 280 lopies van 155 balle behaal het, met 40 viere en sewe sesse.
POLOKWANE – Tiaan Haasbroek is ‘n veelsydige krieketspeler wat dié sportsoort maklik laat lyk.
Of hy nou op die veld is met veldwerk, of voor die paaltjies aan die kolwerskant, daar is geen sigbare spanning by hom nie.
Die skare raak stil wanneer hy as openingsbouler gereed is om skoonskip van die opponente te maak.

Tiaan is ‘n gr. 11-leerder aan Hoër Tegniese Skool Tom Naudé, waar hy ook in atletiek en akademie uitblink. Hy is onlangs verkies tot die skool se hoofseun vir 2026.
Hy speel reeds van jongs af krieket en het sy loopbaan begin by die Eagles Cricket Academy.
Hy onthou dat sy ouer broer vir sy eerste verjaarsdag vir hom ‘n plastiek krieketkolf met ‘n tennisbal gekoop het.

Tiaan is deel van Tom Naudé se eerste krieketspan.
Op 6 September het die span teen Hoërskool Eric Louw gespeel, waar Tiaan as derde kolwer 280 lopies van 155 balle behaal het, met 40 viere en sewe sesse.
Farhaan Dhaleck en Matheo Thapelo het onderskeidelik 89 van 70 balle en 54 van 28 balle behaal.

Thapelo het ses paaltjies van 11 lopies geneem, terwyl HP Robberts vier paaltjies van 19 lopies behaal het.

Tom Naudé het in totaal 563 lopies vir die verlies van ses paaltjies in 50 boulbeurte aangeteken.
Op 10 September het Tom Naudé se eerste span teen Hoërskool Pietersburg gespeel. Tiaan het 35 lopies van 19 balle aangeteken en is nie uit nie in 30 boulbeurte.




