Dié Polokwane-sibbe tuimel tot op die podium
JJ en Martin (7), Adenei (12) en ouboet Henré (13) is almal deel van Zani's Gimnastiek Akademie en het onlangs aan die Limpopo Artistieke Gimnastiekkompetisie in Thabazimbi deelgeneem.
POLOKWANE – Gimnastiek is een van die Olimpiese sportsoorte wat altyd ‘n mens se asem wegslaan, van indrukwekkende swaaie op die ringperd tot akrobatiese spronge op trampoliene.
En vir die Ras-broers en -suster is dit net so natuurlik soos hardloop vir ‘n rugbyspeler.
JJ en Martin (7), Adenei (12) en ouboet Henré (13) is almal deel van Zani’s Gimnastiek Akademie en het onlangs aan die Limpopo Artistieke Gimnastiekkompetisie in Thabazimbi deelgeneem.

Vir Adenei en Henré is dit meer as net ‘n stokperdjie – hulle droom al groot van Olimpiese Spele, maar eers wag nog ‘n paar jare op die laerskool by Pietersburg Laerskool.

Die tweeling, JJ en Martin, het reeds as kleuters begin lesse neem en is nou in hulle element. Hulle het ook onlangs aan die Limpopo mans artistieke kompetisie deelgeneem.
“Ek hou daarvan om die roetines op die vloer te doen,” sê JJ, terwyl Martin die kompetisie-omgewing self die lekkerste vind. Ons afrigter maak dit baie lekker om deel van die klub te wees.”
Henré het in gr. 1 aangesluit en is vandag ‘n inspirasie vir sy jonger broers.

By die Centurion Gimnastiek-kompetisie het hy ses medaljes gewen, onder andere goud op die ringe en ‘n silwer vir algehele tweede plek.
“Ek hou van gimnastiek omdat dit my fiks hou, ek nuwe roetines kan aanleer en saam met my vriende kan oefen. Dit sal wonderlik wees om eendag die land by die Olimpiese Spele te verteenwoordig.”
Adenei verkies die trampolien.
By die Limpopo trampolienkompetisie het sy in Polokwane twee eerste plekke ingepalm, in die Eurotrampolien en mini-trampolien.
“Ek geniet dit om nuwe roetines aan te leer, fiks te bly en natuurlik aan kompetisies deel te neem. Hopelik sien ek ook eendag die Olimpiese Spele van naby!”




