Hande klap en voete stap by Kleinbegin
Die aand het afgeskop met moderne weergawes van 'Stapsoldaatjie' en 'Osbraai op Kromdraai', albei met 'n bietjie meer 'doef-doef' as wat ouer geslagte onthou.
POLOKWANE – Die Afrikaanse taal vier vanjaar sy 100ste amptelike bestaansjaar, en met liedjies van ouds het Kleinbegin Kleuterskool se kleuters Donderdagaand hul ouers en grootouers vermaak tydens ‘n vrolike konsert in The Village Theatre.
Die aand het afgeskop met moderne weergawes van ‘Stapsoldaatjie’ en ‘Osbraai op Kromdraai’, albei met ‘n bietjie meer ‘doef-doef’ as wat ouer geslagte onthou.
Daarna het die Muise hul heupe geswaai op ‘Babatrein’ en ‘Dappermuis’, terwyl die Beertjies vrolik op Teddiebeer gedans het.
‘n Hoogtepunt was toe Bernice West se gewilde lied Lyfie oor die luidsprekers geklink het.
Al die kleuters het saamgespring en gedans, en as die gehoor kon, sou hulle ook wys waar hulle “koppie, lyfie en voete” sit.
Soos altyd het die Pikkewyne met hul bote geroei en die storie van die Alibama vertel, tot groot vermaak van die gehoor. Die gr. R-klas het die program afgesluit met ‘n dans op ‘Byeboerwa’ en ‘Witborskraai’, wat sommer weer nostalgiese herinneringe wakker gemaak het.
Die aand is afgerond met ‘n kleurspel, waarna die Kleinbegin-personeel self die verhoog betree het en hul danstalent aan die ouers gewys het.












