FOTO’S: ‘Starry Night’ vir HPP se matrieks
Die hoofleiers en personeel van Hoërskool Piet Potgieter het van die geleentheid gebruik gemaak om die leerders sterkte toe te wens met die komende eksamen.
MOKOPANE – Matriekleerders in deftige aanddrag het verlede Donderdagaand hul opwagting op die rooi tapyt in gemaak om hul skoolloopbane by Hoërskool Piet Potgieter (HPP) vaarwel toe te roep.
Om die spoggeleentheid ekstra spesiaal te maak, het leerders reeds van vroegmiddag af in luukse voertuie, blitsige sportmotors en ‘n paar veteraanmotors by die skool opgedaag waar hulle voor die toeskouers geparadeer het met hul uitrustings voor hul die Pierneefsaal betree het vir ‘n asemrowende matriekafskeid wat hulle vir lank gaan onthou.
HPP se 124 matriekleerders was vanjaar verras met ‘n ‘Starry Night’ in Vincent van Gogh-styl.
Die saal en voorportaal van die Pierneefsaal was spoggerig opgemaak volgens die tema, en die gr.11-leerders het reggestaan met verwelkomingdrankies.
Die hoofleiers en personeel het van die geleentheid gebruik gemaak om die leerders sterkte toe te wens met die komende eksamen.
‘n Watertandete is voorgesit en die leerders het tot laat nog gekuier, gedans en stories uitgeruil.














