Ons almal wil tog so graag net ‘n ou plekkie in die son kry.
Party wil net op die sypaadjie ‘n oomblik in die koelte wag, ander se sonplekkie is ‘n strandhuis in Mosselbaai met ‘n dek wat oor die sand en die see uitkyk.
Die meeste van ons wil net ‘n klop op die skouer hê, ‘n glimlag of ‘n handdruk, maar soos genade is ‘n plekkie in die son soms skaars.
Op pad skool toe sien die kinders ‘n boe-melaar wat twee weke gelede by ons geld gevra het om Rustenburg toe te gaan. “Hy’s gou terug,” meen die oudste.
“Pappa sê hy wou eintlik net geld vir ‘n ‘cork’ gehad het,” gooi die jongste ook haar stuiwer in die armbeurs. ‘n “Cork” is een van daai lang biere in die swart bottels wat mens weer kan inruil, net vir in geval jy ook so oningelig soos ek is.
My oudste trek sy wenkbroue op en raak iets wêreldwys kwyt, maar ek wonder in my stilligheid wat ‘n “cork” deesdae kos, net vir in geval die ou weer kom vra.
Dit is darem lekker as iemand sien wat jy nodig het en dit vir jou ongevraagd gee. Gister kry ek ‘n e-pos van ‘n kollega wat my bedank vir harde werk en sommer ook prys vir lojaliteit. Was dit nou lekker!
Ek het sommer tot vanoggend nog die huppel in my stap oor.
Ek doen toe weer moeite om ‘n nommer te kry van ‘n kennis wat al ‘n week of drie siek is.
Jammer dat ek nog nie gebel het nie, vra ek verskoning net om te hoor hoe verras en bly sy is dat ek gebel het.
Die geleentheid om ‘n sonstraal in iemand anders se lewe te laat skyn, doen homself ‘n hele paar keer per dag voor. Die vraag is hoe-veel keer gebruik ons dit?
Met ‘n enkele woord, gebaar of glimlag kan ons ‘n verskil maak in iemand se lewe. Die meeste van ons is suur, onvergenoegd, oorwerk, onderbetaal, geïrriteerd en ongeduldig.
Kyk na die uitdrukking op mense se gesigte wat agter jou in die ry staan.
Groot helde doen dikwels grootse dinge, maar die meeste van ons kan ‘n verskil maak deur die klein dingetjies in die lewe.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
