My man is een van hulle. Ek kan my verstom vir die manier waarop hy kan luister of maak of hy luister en can wag tot die korrekte oomblik om iets te se, of sommer heeltemal niks te bly se nie. Hy se nie eens “Hmm” soos my pa altyd gedoen het nie.
Ek het ‘n vriendin wat ook haar mond kan hou. Sy is altyd koel en selfbeheersd. Sy sal lag en opgewonde raak, maar nooit giggel of iets uitblaker nie.
Dan is daar mense soos ek. Dis nou nie dat ek na myself hoef te luister om te weet wat ek dink nie. Daar is darem ‘n mate van ‘n filter. En ek het al geleer om my mond te hou, maar dis maar swaar. Nee, ek praat maklik en my hart borrel sommer so by my mond uit. Dis beslis oor ek naief is. Ek glo mense maklik. Ek verwag nooit slegte motiewe nie en as iemand net sommer ‘n bietjie vriendelik is, val ek goedmoeds daarvoor. Ek sukkel om kwaad te bly.
Dit het my al in eindelose moeilikheid gebring. Iemand het my nou die dag vertel optimistiese mense is gevaarlik. Dit beteken ek is lewensgevaarlik. Ek reken hy het gemeen mens moet realisties ook wees, maar ek storm in oorentoesiasme in en oorweeg eers die reslutate eers later. Dis al vele kere wat ek gehoop het, ek kon my mond ‘n keer of meer toegehou het.
Hulle se mos: “Stil bek is ‘n heel bek!”
En toe drink ek en my stil vriendin nou die dag nog ‘n koppie koffien nadat die ander vriendinne al weg is. Sy lyk nie lekker nie en ek vra. Na ek die tweede keer vra, begin sy eindelik praat. Dis ‘n storie van ‘n vrou wat te lank stil gebly het. “Dit voel of iemand die een sementblok na die ander opmekaar stapel,” verduidelik sy. Sy hou haar mond vir haar ouers, vir haar man, vir haar skoonouers, vir haar suster en vir die se stoute kindertjies. Sy gedra haar soos ‘n goeie, dinelike dogter, ‘n ondersteunende suster, ‘n gedienstige vrou. Haar hele lyf is seer van die stil bly, van die inhou en bek hou.
Ek wil he sy moet haar hart uitpraat, maar daar daag iemand op, wat na my aard en val ons in die rede met haar vele verhale. Ek sit stil en luister. En ek weet, stil bek is beslis nie altyd heel bek nie.
Soms moet jy jou hare uit jou kop ruk, jou arms in die lug gooi en gil, nie musikaal nie, nie sexy of ‘damsel-in-distress’ nie, maar soos ‘n wilde ding in ‘n donderstorm. Soms moet jy laat gaan, moet jy die aarde laat bewe totdat die sementblokke uitmekaar ruk en jy skielik vry voel.
Maak jou hare los, jou boonste knoop oop en laat net ‘n bietjie gaan. Jy kan weer more mond hou!
