Resiesduiwe maak naam tydens wedvlug
Geveerde vriende van plaaslike resiesduifeienaars van die Polokwane Resiesduifklub het nie Saterdag tydens die vyfde ronde van die plaaslike dubbelwedvlugkompetisie teleurgestel nie. Klublid, John Harpestad sê die duiwe is onderskeidelik Saterdag om 07:30 en 08:00 in Parys, Vrystaat vrygelaat en mooi weer en ‘n ligte suidoostelike wind het die duiwe weer vinnig laat terugkeer. Duiwe …

Geveerde vriende van plaaslike resiesduifeienaars van die Polokwane Resiesduifklub het nie Saterdag tydens die vyfde ronde van die plaaslike dubbelwedvlugkompetisie teleurgestel nie.
Klublid, John Harpestad sê die duiwe is onderskeidelik Saterdag om 07:30 en 08:00 in Parys, Vrystaat vrygelaat en mooi weer en ‘n ligte suidoostelike wind het die duiwe weer vinnig laat terugkeer.
Duiwe kon in die opewedvlug vir enige ouderdom of in die tweede wedvlug vir jaaroudduiwe inskryf.
Bartlo Oerlemans se jaaroud blou wyfie het in die tweede kompetisie ’n afstand van 404,768 km in 4:45.19 voltooi. Haar twee hokmaats het kort op haar hakke die hok ingevlieg wat aan Oerlemans die eerste- tweede- en derde plek besorg het.
Sy duiwe het ook die sesde-, agtste-, ne-
gende- en tiende plekke ingepalm. Tinus Botha se duiwe het die vierde en vyfde plekke verower.
Tydens die opewedvlug waar enige ouderdom duif kon inskryf, het Botha se duiwe die eerste- en vyfde tot negende plekke verower.
Hennie van Rensburg se duif het slegs een minuut en nege sekondes agter die voorloper geland.
Harpestad het ’n beroep op die publiek gedoen om hom by 082 329 6911 of 015 293 0513 te skakel indien ’n geringde duif in en rondom Polokwane gevind word.
Story by: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com



