Sport

1150km in 5 dae vir Polokwane se fietsryer

Plaaslike inwoner Alvin Lucas is gereed om vanaf 26 November aan die Munga Fietsrywedren deel te neem.

POLOKWANE – Om 1 150 km binne vyf dae op ‘n fiets deur die uitgestrekte Karoo te ry, verg ‘n buitengewone kombinasie van fisieke uithouvermoë en geestelike krag.

Dit is presies waarom die Munga Fietsrywedren dikwels beskryf word as die taaiste wedren op aarde.

Plaaslike inwoner Alvin Lucas is gereed om vanaf 26 November aan hierdie uitdagende ultra-afstandwedren deel te neem.

“Ek ry al baie lank fiets en het oorspronklik twee jaar gelede beplan om aan die Munga deel te neem,” vertel Lucas. “Ongelukkig het ek seergekry en eers vanjaar weer sterk genoeg gevoel om in te skryf.”

Die wedren skop om 12:00 op die terrein van die Sun International Windmill Casino in Bloemfontein af.

Daarvandaan bepaal elke deelnemer self hul rittempo en stoproetine, met ‘n afsnypunt om 12:00 op 1 Desember. Langs die pad is verskeie waterpunte, asook ‘race villages’ waar ryers kan eet, slaap en tegniese ondersteuning kry. Tog, omdat deelnemers hul eie rit bepaal, is dit algemeen dat sommige sommer langs die roete onder ‘n boom slaap.

“Ek beplan om net sowat 15 uur in vyf dae te slaap en wil die wedren binne vier dae voltooi. Die roete is nie gemerk nie; ons moet self navigeer met ‘n GPS en die amptelike roetelêer wat ons net voor die wegspring ontvang. Sou jy afdwaal, word jy beboet,” vertel hy verder.

Geen familielede mag deelnemers langs die roete ondersteun nie, en deelnemers moet alles wat hulle moontlik nodig kan hê, op hul fietse saamdra. Ryers mag wel mekaar help indien nodig.

“Ons fietse word toegerus met alles, van herlaaifasiliteite vir selfone tot GPS-toerusting. Slaaptyd is ‘n luukse – hoe meer jy slaap, hoe minder tyd het jy om die wedren te voltooi.”

Volgens Lucas is die grootste uitdaging nie die fisieke aspek nie, maar die geestelike uithouvermoë wat nodig is om die Karoo se uiterstes te trotseer.

In die dag is dit bloedig warm; snags byt die koue. Daarbenewens moet deelnemers voortdurend op hul hoede wees vir slange, skerpioene en selfs erdvarkgate.

“Ek het al in Januarie met my voorbereiding begin en daagliks gery, met langer ritte oor naweke. Ek is nie so fiks soos twee jaar gelede nie, maar ek het al my Limpopokleure in bergfiets behaal. Geestelike krag is die sleutel. Dis nie ‘n wedren wat enige iemand aanpak of klaarmaak nie.”

Deelnemers loop ook die risiko om Shermer’s Neck op te doen, ‘n toestand waar die nekspiere so moeg raak dat die ryer nie sy kop kan oplig nie.

Dit gebeur as gevolg van ure se intense postuur en is ‘n gevreesde ultra-wedrenverskynsel. Ryers raak soms boonop op die fiets aan die slaap, wat tot gevaarlike valpartye en selfs gebreekte sleutelbene kan lei.

Die roete strek vanaf Bloemfontein deur Vanderkloofdam, Britstown, Loxton, deur die Tankwa-Karoo, tot by Ceres, voordat die laaste skof eindig by Doolhof Wynplaas in Wellington.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Maretha Swanepoel

My name is Maretha Swanepoel and I have worked at the Polokwane Review since 2012. The decision to become a journalist came at 04:00 one Friday morning while watching news of bombings in Afghanistan and I realised I wanted to be there. Some years later, I decided to rather stay in South Africa and join the industry due to my love for writing and curiosity. Even though I can write all beats, I love human interest and community news with some schools added to the mix. Telling someone’s story and using my camera to make memories is a privilege. My interests include animals (especially dogs) and mental health. I like to spend my time with my dogs and a good book. My family is important and takes second place in my heart. God is always first.

Related Articles

Back to top button