Gholf-glorie vir HPP se spelers
MET die blou golwe en seesand in die omtrek het 'n hoogs-gemotiveerde gholfspan van Hoërskool Piet Potgieter (HPP) gesorg vir uitstekende spel tydens hul gholftoer op Margate aan die kus van KwaZulu-Natal.
MOKOPANE – MET die blou golwe en seesand in die omtrek het ‘n hoogs-gemotiveerde gholfspan van Hoërskool Piet Potgieter (HPP) gesorg vir uitstekende spel tydens hul gholftoer op Margate aan die kus van KwaZulu-Natal.
Altesaam 55 spelers van vier skole het hul slag gewys. HPP se gholfspan is aangewys as die beste aan die einde van die toernooi en die top-vyf spelers is ook almal van HPP.
HPP se Keagan Ross het sy gholfstokke behoorlik geswaai en is gekies as die speler van die toernooi met SW Bruwer op sy hakke. Cobus van Wyk was derde, Johnty Darvall spog met n vierde plek en Kurt Kruger het ‘n vyfde plek verower. Die spelers van HPP is beloon vir hul goeie tellings.
Afrigter Bradley Pieterse, is verheug oor die skitterende vertoning van die gholfspan wat teen drie sterk skole meegeding het. “Daar is goeie gholf teen Maritzburg College, Framesby High School en Hoërskool Harrysmith gespeel. Die doel was om teen skole van ‘n ander provinsie mee te ding en meer ervaring op te doen.”
Pieterse bedank die spelers se ouers en die span se borg wat die toer moontlik gemaak het.







