Dié Bokkies is tops!
RUGBY en hokkie vier tans hooggety by Hoërskool Piet Potgieter (HPP) met talle van die skool se spelers wat onlangs tydens die Bokkieweek op Kroonstad uitgeblink het.
MOKOPANE – RUGBY en hokkie vier tans hooggety by Hoërskool Piet Potgieter (HPP) met talle van die skool se spelers wat onlangs tydens die Bokkieweek op Kroonstad uitgeblink het.
Vier van die skool se top eerstespan-spelers het by die Bokkieweek uitgedraf vir die Verre Noordspan wat vanjaar gekroon is as die kampioenspan. Die 24ste Bokkieweek is van 6 tot 10 Julie in Kroonstad gehou waar Piet Pot se Driekus Kleynhans, Colin Steyn, Waldo Kruger en Brandon Collins vir die o/19-Verre Noordspan uitgedraf het.
Nie net was Verre Noord se o/19-span onoorwonne nie, maar dit is ook die eerste keer in 24 jaar dat die span bo aan die punteleer geeïndig het. Dié prag prestasie is behaal toe Verre Noord eers met Oos-Transvaal afgereken het met ‘n telling van 40-24, daarna het hulle ook teen Transvaal gewen met die eindtelling 35-21.
Hulle wenglorie is voortgesit toe hulle ‘n span van Natal met 29-3 geklop het voordat hul in die finaal met Vaaldriehoek afgereken het. Die eindtelling was 18-7.
Colin, Brandon en Waldo is aan die einde van die toernooi gekies vir die Bokkieweek vyftiental wat die naweek aan ‘n rugbytoernooi in Pretoria deelneem.
Ander uitblinkers van Piet Pot by die Bokkieweek was Johnty Darvall (o/16-Verre Noordspan) en Franco Hendriks (o/16-Kavalierspan). In die o/14-Verre Noordspan het JC Venter en Henco Venter van HPP hul kant gebring.
“Dit was skitterende hardloop-rugby wat tipies is van Piet Pot se eerstespan,” sê De Wet Kruger wat nou betrokke is by HPP se rugby, trots. Volgende Saterdag, 25 Julie, kom HPP se eerstespan teen Ben Viljoen van Groblersdal in die mediumskole-finaal op Polokwane te staan. Die o/14’s en die o/15’s is ook in die finale.
Die o/14’s draf uit teen Hoërskool Nylstroom en die o/15-span speel teen Hoërskool Ellisras. Die wedstryde word almal op Hoërskool Tom Naudé se velde gespeel.
Verre Noord se o/19-hokkiespan het sewende geeïndig uit 14 spanne met die vier keer se gelykop-wedstryde wat hul gepootjie het. HPP se Lomé Beeslaar, Anel de Vos, Marina Vorster en Soretha Kruger was van die uitblinkers in die Verre Noordspan. Vier kranige Piet Pot spelers het vir Verre Noord se o/14-span uitgedraf en Kaylen Deysel is na afloop van die toernooi vir die SA o/14-Bokkiespan gekies.
HPP se e eerstehokkiespan en die o/16-span gaan op 1 Augustus teen Hoërskool Ben Viljoen van Groblersdal sake uitspook in die finaal vir mediumskole. Die o/14-span kom dan ook teen Hoërskool Frikkie Meyer van Thabazimbi te staan in die finaal wat in Polokwane gehou gaan word.






