Marais-duiwe vlieg voor in wedvlugte
DIE duiwe uit die hokke van Tiaan Marais kraai behoorlik koning vandat die wedvlugseisoen afgeskop het.

MOKOPANE – DIE duiwe uit die hokke van Tiaan Marais kraai behoorlik koning vandat die wedvlugseisoen afgeskop het. Twee duiwe van Marais het die Kroonstad en Colesberg opewedvlugte verlede naweek gewen.
Die duiwe van die Sportman Amateur Posduifklub het verlede Vrydag vanaf Colesberg huis toe gevlieg en Marais se duif het ‘n wenspoed van 106 km per uur gehad. In die tweede plek was ‘n wyfie uit die hokke van Johan van Zyl, terwyl nog ‘n duif van Marais derde ingeklok het.
Die Kroonstad opewedvlug is die volgende dag gehou en dit was weereens ‘n duif van Marais, dié keer ‘n mannetjie, wat die voortou geneem het. Die duif se wenspoed was 78 km per uur. Tweede was ‘n duif van Barend Viljoen en op sy hakke het ‘n wyfie uit Marais se hokke klaargemaak.
Dit was ook ‘n duif van Marais wat twee weke gelede die jaaroud-wedvlug vanaf Bloemfontein gewen het met ‘n duif van Fanie Viljoen wat die opewedvlug ingepalm het.



