Kleurvolste 5 km op aarde
DIE fikse lede van die Potgietersrus Atletiekklub het verlede Saterdag by verskeie wedlope in Pretoria, Lephalale en Polokwane die klub se naam hoog gehou.
MOKOPANE – DIE fikse lede van die Potgietersrus Atletiekklub het verlede Saterdag by verskeie wedlope in Pretoria, Lephalale en Polokwane die klub se naam hoog gehou.
Estelle Geerkens en Hannes Nel het die klub met trots in Pretoria tydens die Marcel van Slot 15 km Ocean Basket wedloop verteenwoordig en het hul albei die wedloop in rekordtye voltooi, Estelle voltooi die wedloop in 1:10 (min) en Hannes in 1:08 (min).
In Lephalale tydens die Exxaro wedloop draf Hannes Engelbrecht, in die grootmeesterafdeling, die 32 km met ‘n tyd van 3:32 kaf en verwerf ‘n eerste plek. Gustav van der Merwe word in die meesterafdeling, in die 10 km stap met ‘n tyd van 1:28 as wenner gekroon.
Sarie Coetzee verwerf ‘n derde algehele plek in die 32 km en ‘n tweede plek in die meesterafdeling met ‘n tyd van 3:15.
Verskeie lede het hul gewone drafdrag verruil vir ‘n kleurvolle tutu of ‘n funky pruik om te deel in die pret van die gewilde 5 km Color Run, wat vir die eerste keer in Limpopo in Polokwane, aangebied is.
Meer as 3 000 mense, oud en jonk, het aan hierdie geleentheid deelgeneem en wanneer daar na die foto’s gekyk word spreek dit boekdele van opwinding.
“Dit was een van die lekkerste geleenthede wat ek ooit in Limpopo bygewoon het,” vertel Andrea Ferreira.








