Tour de Pot: jong fietsryers presteer
Terwyl die eerste lentereën neerplons, het die fietsryers wat verlede Saterdag aan die Limpopo Debtsafe MTB skolebergfietsreeks deelgeneem het, onverpoos deur die modder vir 'n vale getrap.
MOKOPANE – Terwyl die eerste lentereën neerplons, het die fietsryers wat verlede Saterdag aan die Limpopo Debtsafe MTB skolebergfietsreeks deelgeneem het, onverpoos deur die modder vir ‘n vale getrap.
Die Tour de Pot is in die Wildteelsentrum net buite Mokopane gehou en 180 ywerige jong fietsryers het hulself gate uitgeniet in die nat weer waar hul fietsryvernuf tot die uiterste in die ongerepte natuur beproef is.
Uitslae van Mokopane Fiestryklub
Arno Smit van die Mokopane Fietsryklub het ‘n eerste plek opgeraap in die sub-junior seunsafdeling met sy spanmaat, Eldric Bekker op sy hakke. Lané du Plessis was vierde in die afdeling vir junior meisies.
Tour de Lip, 19 September
Op 19 September word die Tour de Lip in Louis Trichardt gehou wat die vierde en finale been van die skoolfietsryreeks is. Die hoër- en laerskoolleerders kan dan ook kompeteer in ‘n 4-6 km XCO roete, afhangend van hul ouderdom met groot pryse op die spel. Die top 24 fietsryers sal in Oktober in die Magaliesberg aan die Spur Nasionale bergfietskampioenskappe deelneem.







