Bosveld SportSport

Woema op ovaalbaan sorg vir genoeg aksie en vernuf

Die koue is verby en net soos die weer warmer word begin die wedrenne van Trevor Else Raceway op die ovaalbaan buite die dorp meer woema kry.

Karien Ruytenberg

 

MOKOPANE – Die koue is verby en net soos die weer warmer word begin die wedrenne van Trevor Else Raceway op die ovaalbaan buite die dorp meer woema kry.

Die plaaslike jaers, asook dié van Polokwane en Pretoria het op Saterdag, 22 Augustus, mekaar die stryd aangesê en die adrenalien het behoorlik op en af van die baan gepomp.

1600 Stockrods:

Daar was ‘n paar jaers van buite die dorp wie Potties se manne kom aanvat het en hulle moes hard baklei om eindelik met ‘n trofee huistoe te kon stap.

Petrus van Oordt van Pretoria het in sy SA2 motor sy staal kom wys en almal gewys hoekom dié motor tops is.

Van Oordt was eerste oor die wenstreep met James Cunningham in die tweede plek.

Herman Nel van Potties het teenstand gebied maar moes tevrede wees met sy derde plek vir die aand.

1660s:

Hierdie klas het oudergewoonte weer gesorg vir aksie uit die boonste rakke. Boela Bekker van Potties het gewys hy is terug met mening na sy vorige kennismaking met die muur.

Hy moes ongelukkig kyk hoe JJ Fourie van Polokwane met sy eerste plek die trofee kry. Hy was tweede en Louis Ruytenberg (jnr) derde.

Pinto’s:

In dié klas het die toeskouers die voorreg gehad om twee van die beste motors in die land in aksie te sien. SA2 en SA3 het mekaar die stryd aangesê en dit was Piet Knoetze van Mahem in die SA2 motor wie eerste oor die wenstreep is.

Jack Daniel (SA3) moes tevrede wees met die tweede plek en Handré Kotze ook van Mahem, was derde.

Open Class:

Die Open Class wat veral in Pretoria baie gewild is, het vir opwinding gesorg toe die manne van Mahem Raceway besluit het om dié afdeling aan die motorwedrenliefhebbers bekend te stel. Cyril Smith was eerste met Desmond Meyer in die tweede plek.

Sprints:

Met brullende enjins en skreeuende bande is hierdie klas seker die hoogtepunt vir baie van die toeskouers. En met reg, want dié hardebaard-jaers het nie ‘n bang haar op hul koppe nie.

Hulle kan maklik bestempel word as die “winties” van die baan, want hul motors is in ‘n klas van hul eie.

JP Taljaart is eerste verby die geruite vlag met Stephan Fouche op sy hakke. Dewald Kotze was derde.

Die Coopers het ook weer hulle “drifting” vernuf kom wys en Banie Oelofse is met sy GX padkar om die baan omdat sy wedrenkar nog nie reg is nie.

Trevor Els Raceway bedank die deelnemers, beamptes en die toeskouers vir hulle volgehoue ondersteuning.

Spesiale dank aan Mokopane Tyres wat die aand se trofees geborg het.

Indien enigeen belangstel om betrokke te raak by dié opwindende sport, hetsy as ‘n borg of as ‘n jaer, kontak Dinette Webb by 072 180 3777.

Daar is reeds ‘n paar nuwe motors wat in proses is om gebou te word en dit blyk duidelik die sportsoort se aanhang neem toe.

Tans word hard gewerk om die baan op te kikker om nog groter wedrenne aan te bied. Daar is ook nog advertensiespasie op die muur beskikbaar en Dinette kan by 072 180 3777 gekontak word.

Op Saterdag, 26 September word ‘n voldag se resies aangebied met plaaslike en jaers van elders wie hul staal sal kom wys.

Die hele gesin kan saam kom vir ‘n gewaarborgde aksiebelaaide aand. Daar sal ook kosstalletjies wees vir die wie nie self ‘n vleisie langs die baan wil braai nie.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button