Jonker slyp nou Lim se sewesspan
"Alles is vir die liefde vir die spel. Selfdissipline en harde werk is in jou eie hande en 'n mens sê dankie vir die talent ontvang van ons Skepper."
LIMPOPO – “Alles is vir die liefde vir die spel. Selfdissipline en harde werk is in jou eie hande en ‘n mens sê dankie vir die talent ontvang van ons Skepper.”
Aan die gesels is SJ Jonker, ‘n rugbyman in murg en been wie pas verkies is tot die afrigter van die Limpopo Sewesrugbyspan vir 2015/16.
Jonker is hier op Mokopane gebore en getoë en Potties se water en waardes loop sterk deur sy are, erken hy.
Dit was juis hier in Laerskool Krugerpark en Hoërskool Piet Potgieter wat hy sy merk gemaak het en in verskeie sportsoorte as ‘n eerstespanspeler uitgedraf het.
Naskool het hy onder meer vir die eerstespanne van die rugbyklubs van Oostelikes, Ferrometals, Edenvale, Springs, Boksburg en Brakpan gespeel. Hy het ook vir die Valke vyftiental en provinsiale sewesrugby gespeel.
Jonker kan met verskeie afrigterskwalifikasies spog en het ook die rugbyspanne van Hoërskool Piet Potgieter vir ‘n paar jaar afgerig.
Sy afrigtingswerk by die Potties Rugbyklub was goud werd, so ook sy harde werk by die Limpopo Sub-unie klubs, provinsiale skole en op provinsiale seniorvlak. Tans is hy betrokke by die Limpopo Blou Bulle se provinsiale sewesspan.
Hy is opgewonde oor die rugbyspelers van Limpopo wie onlangs aan die Provinsiale Sewestoernooi deelgeneem het. Plaaslike spelers wie hulle slag daar gewys het, is Riaan Laidlaw, Hans du Plessis, Renier Labuschagne, Corne Botha, Dennis Brits , Ockie Groenewald, Kieron van der Merwe, Phil Herselman. Marco de Sousa, Sias van Wyk, JP Vermeulen, Klaas Galane, Deon Klein, Jan Vorster en Anthony Hawkens.
Hy sê die span het baie goed gespeel en maak nou reg vir die groot Nasionale Sewestoernooi wat van 5 tot 8 November op Mbombela (Nelspruit) gehou word.
Jonker is die afrigter van die sewesspan wat daar in hulle Limpopo-rugbytruie gaan deelneem.
Die spelers is: Riaan Laidlaw, Anthony Hawken, Renier Labuschagne, Sias van Wyk, Dennis Brits, Phil Herselman, Rodrick Rudledge, Klaas Galane, Marco de Sousa, Deon Klein, Kieron van der Merwe en Jan Vorster. Ockie Groenewald en Leslie Venton is die spanbestuurders wie ook help met die organisering en tegniese aspekte.
Jonker wens vir Hans du Plessis geluk met sy insluiting in die Suid-Afrikaanse Tiensrugbyspan wat in November aan verskeie toernooie gaan deelneem.





