Bosveld SportSport

Hemofilieleier reik na nuwe hoogtes

Cobus Visser is die eerste Suid-Afrikaanse hemofilieleier, en moontlik ook die eerste in die wêreld, wat die hoogste berg in Afrika, Kilimanjaro, gaan uitklim.

MOKOPANE – Visser, wat in Pretoria woon, het in Mokopane grootgeword en sy pa, Theuns Visser, is die eienaar van Boabab Wildsplaas en Furn4U. Hy beplan om van 9 tot 20 Julie sy bergklimekspedisie saam met sewe ander klimmers in Tanzanië aan te pak.

Lees ook: Sarel Nong summits Mt Kilimanjaro

Hemofilie is ‘n oorerflike siekte gekenmerk deur die onvermoë van die bloed om te stol. “Ek was in Junie 2015 by ‘n kruispad in my lewe. Ek kon geopereer word met staalpenne in my enkels wat die erge pyn sou wegneem, maar ek sou dan geen gebruik van my enkels hê nie, of eerder vasbyt. Ek het vir myself gesê ek gaan nie bly lê en my lewe vasgekluister in ‘n bed deurbring nie. Ek mik eerder vir die son en hoop ek land tussen die sterre.”

Cobus sê hy het daagliks pyn en dit is belangrik hoe hy dit geestelik, emosioneel en fisies hanteer want dit het ‘n groot impak op alles wat hy doen en beplan.

Daar gaan baie beplanning in die ekspedisie wat voorlê. Die klimaat en temepratuur speel ‘n groot rol in die berging van sy medikasie en die toediening daarvan. “Sal ek ooit ‘n aar in die koue kry? Die medikasie wat ek gaan saamvat kos sowat R70 000 en ek vat ook ander mediese toerusting soos krukke saam om die klimtog aan te pak.”

Sy grootste utidaging gaan die laaste dag wees wanneer hy tot in -15º celsius moet klim en dan terugkeer.

“As hemofilieleier kan ek nie regtig gewig op my gewrigte sit nie en met die afklim is daar veral baie impak op ‘n mens se enkels. Ek het gelukkig ‘n goeie ondersteuningsnetwerk van dokters, ‘n chiropraktisyn en talle mense wat my volg op my Facebook en WhatsAppgroep.”

Cobus sê sy planne verloop sover vlot. “Dit is asof die Here vir my deure oopgemaak het en borge het begin instroom. Een van my grootste borge is Maluma Avo’s van Tzaneen, waarvoor ek baie dankbaar is. Ek hoop ek sal ‘n inspirasie wees vir ander hemofilieleiers en my bergtog sal mense ook bewus maak van die siekte. As ek die ekspedisie oorleef en my liggaam is nog sterk genoeg, sal ek graag aanstaande jaar die Everest Basiskamp wil aanpak.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button