Spiertier mik hoog
Train until your idols become your rivals," dit is Donovan Suddes (26) se leuse en motivering.
POLOKWANE – “Train until your idols become your rivals,” dit is Donovan Suddes (26) se leuse en motivering.
Donovan is ‘n bekende liggaamsbouer in Polokwane en hy het besluit om sy mikpunte ‘n bietjie hoër te stel. Hy het onlangs aan die Millennium Gold Plate en die International Federation of Bodybuilding and Fitness (IFBB) H&H Liggaamsbou kampioenskappe deelgeneem en by elkeen die titel gewen in die mans fisiek-kategorie. Hierdie titels was die springplank wat hom laat kwalifiseer het om aan die Provinsiale Liggaamsbou Kompetisie in Gauteng tydens September deel te neem. Donovan gaan ook dan in Mei volgende jaar aan die internasionale Arnold Classics deelneem in Suid-Afrika waar hy sy professionele kaart kan ontvang as hy wen. Hierdie professionele kaart gee hom die geleentheid om regoor die wêreld aan liggaamsbou kompetisies deel te neem.
Review het met Donovan gaan gesels om meer uit te vind oor sy dryfkrag en watter roetines hy volg om sy droom na te streef.
“Ek het begin oefen toe ek 16 was, maar het eers in 2013 aan die liggaamsbou kompetisies begin deelneem,” vertel hy. Donovan het tydens laasjaar se IFBB H&H kompetisie tweede gekom waarna hy in November besluit het om onder die bekwame afrigting van Basil Nel te oefen.
“Basil is ‘n wonderlike afrigter, hy is altyd saam met jou by die kompetisies om jou te ondersteun en plaas jou fiksheid en opleiding altyd bo sy eie prioriteite. ‘n Afrigter is die belangrikste element van enige liggaamsbouer, jy kan die beste word met die regte afrigter. Ek beveel Basil baie sterk aan vir enige iemand wat ‘n uitstekende liggaamsbou-afrigter wil hê.”
Donovan het van krag tot krag gegaan onder Basil se afrigting en is vandag ‘n meer ernstige mededinger in die liggaamsbouwêreld. Donovan verduidelik dat hy nog altyd baie sportief was en baie tyd in die gimnasium deurgebring het. Hier het hy ‘n passie ontwikkel vir oefening en reg eet, wat gelei het dat hy sy perke wou toets.
“Jy sal nooit regtig tevrede wees met jou liggaam nie, dit is eintlik ‘n goeie ding, dit beteken jy gaan altyd harder werk om jou mikpunte na te streef,” verduidelik Donovan. Hy maan wel dat jy steeds nederig moet bly, al word jy ook hoé suksesvol. Wees altyd bereid om ander te help en probeer om ‘n goeie rolmodel te wees. Liggaamsbou is ‘n strawwe dissipline, Donovan oefen ses keer ‘n week en volg ‘n streng eetplan. Hy verskerp altyd sy roetine voor ‘n kompetisie.
“Die eetplan is baie uitdagend, dit is ook partymaal moeilik vir familielede om te verstaan dat jy nie alle kos kan eet nie en dikwels jou eie kos na ‘n geleentheid moet bring. Ek was baie erg oor soetgoed, so dit was moeilik in die begin. Jy pas wel aan by die streng leefstylverandering. Dit is belangrik om te verstaan dat almal iewers moet begin, veral in liggaamsbou. Dit verg baie toewyding. Maar jy moet eers klein begin voordat jy groot kan eindig. Dit is nie slegs ‘n gesonde leefstyl nie, jy kry ook baie meer selfvertroue.”
Die Arnold Classics gaan volgende jaar vir Donovan ekstra spesiaal wees omdat hy teen sy rolmodel, Sergi Constance, te staan gaan kom.
“Ek gaan as ‘n non-pro teen pro’s staan, dit gaan ‘n groot uitdaging en ‘n eer wees,” sluit Donovan af.




