Local sportSport

Hokkiebokkies… en ook ‘n tweeling

Nadat hulle in 2015 gematrikuleer het, het dié twee besluit om hul passie en talent vir hokkie voort te sit en hulle is nou deel van die Polokwane Hokkieklub.

POLOKWANE – ‘n Mens hoor gereeld van die spesiale band wat tussen tweelinge bestaan en dat hulle byna alles in die lewe deel en dít is ook die geval met Marinette en Marizelle Meiring.

Dié twee doen van die begin af bykans alles saam, selfs hul gunsteling sport, hokkie.

“Ons ouer sussie het hokkie gespeel en ons het van kindsbeen af saam gespeel. Ons het in gr. R ons eerste hokkiestokke gekry,” vertel Marizelle.

Hulle was op laerskool al vir die eerstehokkiespan gekies en het die trant op hoërskool ook voortgesit by Hoërskool Pietersburg (PHS).

“Ek is voorspeler en Marninette is agterspeler. In die laerskool het ons elke keer wat ons span ‘n doel aangeteken het, plekke geruil. Baie min mense het dit agtergekom,” skerts Marizelle.

Nadat hulle in 2015 gematrikuleer het, het dié twee besluit om hul passie en talent vir hokkie voort te sit en hulle is nou deel van die Polokwane Hokkieklub en rig die sportsoort by hulle ou skool af.

“Hokkie is ‘n groot deel van ons lewens en ons deel ‘n spesiale liefde daarvoor. Oor die jare het ons baie aan die sport toegewy en dit maak die sportsoort selfs nóg moeiliker om af te skaf,” vertel Marinette.

Hulle gedeelde liefde vir die sport sien dié twee soms laataand nog gesels oor die uitdagings wat hulle teëkom sodat hulle advies en tegnieke kan uitruil.

“Ons het verlede jaar gedurende die SA Distrikstekampioenskappe in Benoni vir die Limpopospan uitgedraf. Dit was ons eerste provinsiale toernooi en dit was beide senutergend en opwindend,” vertel Marizelle.

Die liefde wat hulle vir die sportsoort deel is vir hulle een van die lekkerste aspekte daarvan, alhoewel dit nog moeilik is om as verloorders van die veld af te stap wanneer hulle hul beste gegee het.

“Ons raad is om elke sekonde daarvan te geniet. Gee altyd jou beste.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button