Stebian lewe vir sy krieket passie
Om 'n liefde vir krieket in ander spelers te kweek is iets wat Stebian van der Walt baie na aan die hart lê.

POLOKWANE – Sedert sy studentedae het hy help skaaf aan ander krieketspelers se talent.
“Ek het in 2009 onderwys studeer aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) wat nou Universiteit van Johannesburg (UJ) is. In my eerste jaar het ek ‘n krieketakademie begin wat vandag nog bestaan. Ek het drie groepe juniors tussen die ouderdomme van ses tot nege jaar en twee senior groepe tussen 10 en 19 jaar gehad.”
Na sy studies is hy ‘n onderwyspos by Curro Heuwelkruin aangebied, waar hy ook ‘n krieketafrigter is.
By sy akademie, Rebel Sport Academy leer hy spelers die fynere kuns van krieket.
Stebian is reeds op agtjarige ouderdom aan krieket blootgestel en vertel dat hy ook rugby gespeel het, maar dat krieket vir hom die beter sport is. Hy speel steeds rugby, maar net vir die lekker. Hy fokus meer op krieket. In gr. 8 was hy reeds deel van Hoërskool Pietersburg se die eerste krieketspan en het vir die daaropeenvolgende jare Limpopo verteenwoordig. Hy was ook die voorsitter van Limpopo Hoërskole Krieket.
“Ek het vir vier jaar in RAU se Premier kriektespan gespeel en daarna ook klubkrieket vir Bosveld. Ek het vir ‘n kort rukkie ophou speel en meer op afrigting gefokus. Twee en ‘n half jaar gelede het ek Aces Krieketklub oorgeneem en hierdie seisoen het ons al ons wedstryde behalwe een gewen.
Hy vertel dat hy vroëer jare gedroom het om deel te wees van die Protea-span, maar toe hy by UJ was, het hy die talent daar buite gesien en besef hoeveel beter hulle is.
“Vir my gaan dit meer oor om kinders af te rig en te leer. Ek is paaltjiewagter en doen nie te sleg met die kolf nie.

Stebian het verlede jaar ‘n span na Australië geneem waar hulle deelgeneem het aan die Wêreld Kampioenskappe in Melbourne en in Junie hierdie jaar toer hy en ‘n groep vriende na Engeland.
“Ek doen dit om die spelers bloot te stel aan ander toestande. Tans rig ek net in die dag af, maar binnekort sal ek in die aand ook begin afrig. Ek vind dat die o/19 groep makliker afrig, maar dat die fondasie reeds op jong ouderdom gelê moet word.”

Hy vertel dat ‘n vyfdag reeks die lekkerste is aangesien daar tegniek gebruik word. “Ek sal eendag ophou met krieket as dit nie meer lekker is nie. Krieket is meer as net ‘n spel, jy leer ook lewenstegnieke. Soms bat die lewe jou en moet jy deal daarmee. Jy moet weet wanneer om ‘n bal te speel en wanneer om te los. ‘n Mens kan krieket op jou lewe toepas.”
In sy vrye tyd spandeer hy tyd saam met sy familie of in die natuur waar hy graag jag.




