Local sportSport

Danser wat wyk van die norm

Een van die grootste wanindrukke van buikdans is dat dit ‘n uitlokkende dans is wat vroue vir mans dans

POLOKWANE – Alta Pieterse, buikdans-instrukteur by Chimera Belly Dance Academy, is op ‘n missie om dié wanindruk te weerle.

“Ek weet daar is mense wat onder die wanindruk is dat buikdans uitlokkend en suggestief is, maar dit is ‘n dans wat geskep is deur vroue, vir vroue. Dit is ‘n baie vroulike vorm van dans en as ‘n geregistreerde skool voldoen ons aan streng gedragskodes.”

Alta in een van haar buikdans klasse.

Sy sê dat haar loopbaan as buikdans-instrukteur reeds 15 jaar gelede begin het met haar eerste blootstelling aan die dansvorm.

“Ek het nog altyd ‘n passie vir dans gehad, maar my man het nie my passie gedeel nie en ek moes alternatiewe maniere soek om uiting te gee aan my passie,” vertel sy. “’n Vrou wat in Louis Trichardt bly het buikdansklasse in Polokwane aangebied en iets wat aanvanklik net ‘n stokperdjie was, het ‘n leefwyse geword.”

Alta vertel dat buikdans ‘n groot positiewe impak op ‘n vrou se lewe het. Dit help ‘n vrou om soepel te wees en verleng die spiere. Dit is ook goeie oefening vir maagspiere.

“Behalwe dat dit ‘n uitstekende vorm van oefening is vir jou nek, skouers, arms en bolyf, versterk die heupbewegings jou rug en dan natuurlik daardie maagspiere. Dit is ook ‘n baie goeie vorm van oefening vir ouer vroue en vir die wat herstel van beserings omdat dit saggies op jou spiere werk. Dit help ook osteoporose voorkom, omrede dit jou bene versterk en bevorder sirkulasie asook soepelheid.”

Volgens haar studente bied die vorm van oefening ook emosioneel baie aan ‘n mens aangesien dit jou selfvertroue verhoog. Sy vertel baie van haar studente het al vir haar vertel dat hulle mooi voel wanneer hulle dans.

Sy sê dat vroue om verskillende redes dans. Buikdans bring vroue uit verskillende ouderdomsgroepe en agtergronde bymekaar en leer daardeur vroue ken wat andersins nooit op jou lewenspad sou kom nie.

Alta bied twee klasse ‘n week aan. Donderdae is die beginnersklas en Dinsdae is die intermediêre klas. Dansers vind die klasse baie ontspannend en‘n goeie uitlaatklep vir spanning. Elke week word daar nuwe bewegings bygesit.

“‘n Mens sal ook nooit verveeld raak met buikdans nie omdat daar soveel verskillende vorms van buikdans is. Jy kry onder andere jou oriental, tribal, fusion, en folkloric danse en dan is daar ook ‘n verskeidenheid items waarmee ons dans soos mini-rottangs, sluiers en vinger simbale.

Daar word soms op ‘n Saterdag werkswinkels gehou vir die dansers wat wil groei, of vir diegene wat dit moeilik vind om weeklikse klasse by te woon.

“Ons hou kwartaalliks ‘n hafla vir al die dansers om bymekaar te kom, om net vir die genot daarvan te dans en om mekaar beter te leer ken en saam te kuier. Ons tree op by vrouefunksies en hou spanboufunksies. Van tyd tot tyd hou ons ‘n studente-optrede funksie vir familie en vriende. Al wat jy nodig het om aan te sluit is ‘n positiewe houding, ‘n waterbottel en gemaklike klere”.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Raeesa Sempe

Raeesa Sempe is a Caxton Award-winning Digital Editor with nine years’ experience in the industry. She holds a Bachelor’s Degree in Media Studies from the University of the Witwatersrand and started her journey as a community journalist for the Polokwane Review in 2015. She then became the online journalist for the Review in 2016 where she excelled in solidifying the Review’s digital footprint through Facebook lives, content creation and marketing campaigns. Raeesa then moved on to become the News Editor of the Bonus Review in 2019 and scooped up the Editorial Employee of the Year award in the same year. She is the current Digital Editor of the Polokwane Review-Observer, a position she takes pride in. Raeesa is married with one child and enjoys spending time with friends, listening to music and baking – when she has the time. “I still believe that if your aim is to change the world, journalism is a more immediate short-term weapon." – Tom Stoppard

Related Articles

Back to top button