Jong stoeiers besoek Egipte
Twee leerders van die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé, Elbert Steyn en Roedie Roets, het verlede maand in Egipte aan die Junior Afrika Stoeikampioenskappe deelgeneem.
POLOKWANE – Twee leerders van die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé, Elbert Steyn en Roedie Roets, het verlede maand in Egipte aan die Junior Afrika Stoeikampioenskappe deelgeneem.
Elbert vertel hy stoei reeds sedert 2004 en is nou ‘n Springbok-stoeier. “Die lekkerste van stoei is natuurlik om te wen en die moeilikste of slegste is om jou gewig af te bring. Ek moes 10kg in twee weke verloor. Ek oefen vier ure op ‘n dag en ses ure voor die wêreldspele.”
Hy sê hy is die enigste een in sy familie wat stoei en het gekwalifiseer om in Augustus in Sjina aan die Jeug Olimpiese Spele deel te neem.
Roedie stoei sedert 2000 en sy pa is ook sy afrigter. “My pa wou my sterk maak vir rugby en het meer uitgevind oor stoei en hoe ‘n goeie sportsoort dit is. Toe raak ek lief daarvoor.”
Hy is ook ‘n Springbok en vertel die gevoel wat hy kry wanneer hy wen is onbeskryflik en maak die moeilike gewigsverlies-tye die moeite werd.
Beide die stoeiers is lede van die Baciu Stoei-akademie in Polokwane.



