Osies presteer in Super 12
Die Laerskole se Super 12-reeks word jaarliks deur die Universiteit van Pretoria aangebied.
POLOKWANE – Tydens hierdie geleentheid word daar in ‘n verskeidenheid sport- en kultuuraktiwiteite meegeding.
Dit sluit in rugby, netbal, krieket, atletiek, gholf, landloop, hokkie, tennis en swem, asook redenaars, skaak, koorsang, Bybel-vasvra en algemene kennis vasvra.
Laerskool Pietersburg-Oos se rugby en netbalspanne het op Maandag, 24 April in die eindwedstryd teen die ander skole te staan gekom. Drie spanne het onder die top drie in hul onderskeie ouderdomsgroepe geëindig. Die semi-finale het op 22 April by Laerskool Kenmare, Krugersdorp plaasgevind en die eindwedstryd op 24 April by Laerskool LC de Villiers, in Pretoria.

Die semi-finale uitslae is as volg:
• o/10-rugbyseuns speel teen Laerskool Stephanus Roos en wen 12-10.
• o/11-rugbyseuns speel teen Laerskool Rustenburg en verloor 7-0.
• o/12-netbalmeisies klop Laerskool Wierdapark met 15-14.
Die eindwedstryd uitslae is as volg:
• o/10-rugbyseuns klop Constantiapark met 19-0.
• o/11-rugbyseuns verloor teen Laerskool Rustenburg met 7-0.
• o/12 netbalmeisies verloor teen Constantiapark met 19-12.
Die o/10-rugbyseuns word as wenners gekroon, terwyl die o/12-netbalmeisies ‘n tweede plek verower en die o/11-seuns ‘n derde plek.

“Die kinders het hard gewerk om hierdie prestasies te behaal. Ons is trots op hulle. Die o/10-seuns het in 2009 laas die trofee huistoe gebring. Dit was naelbyt- eindstryde,” het James Steel, Sporthoof by Oosskool, vertel.



