School sportSport

Oosskool se rugbytrots

Phillip van der Merwe en Risima Sambo is twee leerders van Laerskool Pietersburg-Oos wat groot rugbydrome nastreef. Beide is gekies vir die o/13-Cravenweek in Johannesburg.

POLOKWANE – “Ons het eers ‘n oefenweek in Bela-Bela en daarna is dit die Cravenweek. Ons is ongeveer drie maande gelede gekies nadat ons proewe gespeel het. Gedurende die eerste proewe het die meeste van die skool se spelers deurgegaan na die volgende ronde, maar toe val almal behalwe ek en Risima uit,” sê Phillip vol geesdrif.

Die Cravenweek vind plaas vanaf 17 tot 22 Julie en die seuns is baie opgewonde oor dié vooruitsig.

“Ek is baie trots en dit is baie lekker om te weet ek gaan in die Cravenweek speel,” vertel Phillip. Vir Risima, wat reeds sedert o/8 rugby speel, is die geleentheid ook baie spesiaal.

“Jy speel saam met ander spelers wat goed is en leer baie ander mense ken. Dit is als baie lekker,” sê hy.

Risima speel buitesenter en Phillip speel skrumskakel. Hulle altwee vertel dat hulle baie oefen.

“Bo en behalwe om aangee te oefen, werk ek ook aan my fiksheid elke dag. Ek gebruik nog nie gewigte in die gimnasium nie, maar ek doen opstote.

“Ek oefen ook saam met my pa en eet redelik gesond. Daarby drink ek ook aanvullings,” vertel Phillip.

Risima vertel hy oefen drie dae ‘n week by die skool en dan ‘n verdere twee of drie ure elke dag by die huis. Hy eet ook gesond.

Albei wil na skool hul rugbyloopbane voortsit en Phillip wil ingenieurswese studeer terwyl Risima graag ‘n tandarts wil word.

“My raad aan ander spelers is om nooit op te gee op jou drome nie en stap jou pad saam met God,” vertel Phillip.

maretha@nmgroup.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button