School sportSport

Waldo se Rusland-rugbydroom

Sporthoof van Tom Naudé, Kobus de Meyer, vertel die skool is baie trots op Waldo.

POLOKWANE – Elke keer voor die 17-jarige Waldo Espach op die veld draf, maak hy eers sy oë vir ‘n oomblik toe en dra die wedstryd en sy spanmaats aan die Here op. Dan draf hy op die veld onder die toeskouers se luide applous en vir die volgende 80 minute gee hy sy alles.

“Ek droom daarvan om eendag ‘n Springboktrui oor my kop te trek, maar vir nou gaan ek eers in Rusland toer saam met die o/17-Bokkiespan,” vertel hierdie gr.11 Tom Naudé leerder.

Waldo Espach is opgewonde om na Rusland te toer. Foto: Verskaf.

Hy vertel dat hy in Julie deelgeneem het aan die Bokkeweek toe hy die Verre Noord Kavaliers verteenwoordig het en dat hy tydens hierdie geleentheid gekies is vir die o/17-toerspan en ook die o/19-Gazellespan.

“Ek is vreeslik opgewonde, maar die kostes beloop nogals hoog en ek moet R30 000 kry voor 20 September.”

Waldo Espach op die rugbyveld. Foto: Verskaf.

Dit sluit reiskostes in, asook rugbytruie en broeke. Elke speler moet middagete self koop aangesien slegs ontbyt en aandete voorsien word.

“Ek speel al rugby sedert my laerskooldae by Oosskool. Ek het toe Bulletjierugby gespeel, hierdie jaar is ek gekies vir Tommies se eerstespan. Ek speel slot, en geniet die spel baie.” Waldo is die enigste Tommie wat gekies is om vir 10 dae na Rusland te toer.

Sporthoof van Tom Naudé, Kobus de Meyer, vertel die skool is baie trots op Waldo. “Hy is ‘n goeie speler en ons is trots om hom ‘n Tommie te noem.”

Waldo Espach op die rugbyveld. Foto: Verskaf.

Waldo vertel dat die heel lekkerste van rugby is om sy talente te gebruik. “Dit is lekker om die talent wat God vir my gegee het uit te leef en om my volle potensiaal te bereik. Dit is ongelukkig sleg as jy beseer is en nie kan speel nie.”

Om Waldo te help om sy Rusland-droom te bewaarheid:

Rekeninghouer: Helena HG Espach

Lopende Rekening

Rekeningnommer: 251789306

Standard Bank.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

 
Back to top button