Sektor 2-lede vir uitstaande diens bedank

Na ‘n jaar van harde werk, lang ure, laatnag patrollies en verskeie operasies het die GPF sektor 2 van Bendor en Sterpark verlede Donderdagaand ‘n jaareindfunksie gehou waartydens lede sertifikate van waardering ontvang het, met ‘n ete bederf is en gesellig saamgekuier het. Verskeie pryse, van brandstofkoopbewyse tot ‘n tuisspa, is tydens ‘n gelukkige trekking …

Na ‘n jaar van harde werk, lang ure, laatnag patrollies en verskeie operasies het die GPF sektor 2 van Bendor en Sterpark verlede Donderdagaand ‘n jaareindfunksie gehou waartydens lede sertifikate van waardering ontvang het, met ‘n ete bederf is en gesellig saamgekuier het.
Verskeie pryse, van brandstofkoopbewyse tot ‘n tuisspa, is tydens ‘n gelukkige trekking uitgedeel. Die hoogtepunt van die aand was die aankondiging van GPF-lede van die Jaar in Bendor en Sterpark wat afsonderlik aan Frank Haas en Stefan van Wyk toegeken is.
“Ongeveer 30 maande gelede is die eerste GPF-vergadering in die park oorkant Laerskool Pietersburg-Oos gehou waar ‘n klomp vreemdelinge bymekaar gekom het. Vandag kan ek met sekerheid sê dat sektor 2 ‘n groot groep vriende geword het wat ‘n verskil in die gemeenskap maak. Sektor twee was destyds bo-aan die misdaadlys, maar vandag is ons ‘n voorbeeld vir ander sektore,” het voorsitter, Johan Retters, gesê.
Hy sê 2017 was ‘n suksesvolle jaar wat misdaadvoorkoming en -bekamping betref en volgende jaar wil hy meer tweerigtingradio’s in die gebied implementeer asook patrollies verdubbel om die area nog veiliger te maak.
Polokwane GPF-voorsitter, Dawid Botes het sy dankbaarheid teenoor elke lid uitgespreek. “Elkeen se bydrae maak ‘n verskil, maar ons moet steeds meer mense betrokke kry om ‘n groter verskil te maak.”
Hy het teen propaganda gewaarsku en gesê boodskappe van geweld en misdaad maak mense moedeloos en magteloos. Lede is gemaan om nie sulke boodskappe aan te stuur of te versprei nie.
Inwoners van dié woonbuurte wat by die GPF wil aansluit, kan Retters by 072 116 9396 skakel.

Storie en foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Related Articles

 
Back to top button