OPVOLG – Dokter Kraftt van Ermelo verloor stryd teen kanker
Die Hoëvelder-span betuig hul medelye met dr. Kraftt se gesin asook sy vriende en jarelange pasiënte.
OPVOLG: 28 February 2020 – 8.15nm
Die Hoëvelder kan bevestig dat dr. Kraftt sy stryd teen kanker verloor het.
Die terugvoeg van die gemeenskap op die oorspronklike berig, spreek van die rol wat hy in die Ermelo-gemeenskap vervul het.
Die Hoëvelder-span betuig hul medelye met dr. Kraftt se gesin asook sy vriende en jarelange pasiënte.
28 Februarie – 6vm
Geliefde Ermelo dokter, Anton Kraftt, veg dapper teen kanker
Dr. Anton Kraftt, ‘n geliefde inwoner en dokter van Ermelo, is op 29 Augustus met longkanker gediagnoseer, waarna hy op 2 September sy eerste operasie om ń gewas te verwyder, ondergaan het.
‘n Histologie wat gedoen is, het aangedui dat dr. Kraftt se kanker ‘n sarkoom is, wat beteken dat dit ‘n baie seldsame en aggressiewe vorm van kanker is.
Volgens sy vrou, me. Jonel Kraftt, het hy elke 21 dae chemoterapie ontvang wat hom baie siek gemaak het, maar hy het hom nie daardeur laat onderkry nie.

Die familie het op 17 Januarie vanjaar die nuus gekry dat chemoterapie nie meer ‘n opsie is nie, en dr. Martin Bruwer het op 28 Januarie ‘n gewas en ‘n groot gedeelte van dr. Kraftt se regterlong verwyder.
Ná sowat drie weke in die intensiewe sorgeenheid van die Life Wilgers Hospitaal in Pretoria, is ‘n breinskandering gedoen en hy is met breinkanker gediagnoseer.
Sy behandeling hou 10 bestralingssessies in om die drukking op sy brein te verlig.
Me. Kraftt het gesê: “Hy is baie sterk deur dit alles, en lag nog elke dag soos net hy kan.”
Dr. Kraftt word deur sy kinders beskryf as ‘n mens duisend met ‘n liefde om ander te help.
Hy is ‘n avontuurlustige man wat leef vir die natuur en kan ure in die jagveld en langs die viswaters bestee.

Dié geliefde dokter het ook ‘n vlieglisensie agter sy naam en was ook ‘n gesogte Brahaman- stoetteler.
Hoewel die diagnose vir sy familie as ‘n groot skok gekom het, hou hul pa se positiewe gesindheid hulle op koers.
Vriende van dr. Kraftt het onlangs besluit om ‘n hulpfonds vir hom op die been te bring, wat gebruik sal word vir sy behandeling en sy vrou se verblyf in Pretoria. Sy staan hom daagliks by.
Alle uitbetalings uit die trustfonds sal slegs gemaak word as die betaling daarvan behoorlik gemagtig word en die nodige bewys of faktuur daarvan voorgelê word.
Die rekening is onderworpe aan ouditering en die reëls van die ‘Legal Practice Council.’
Die bankbesonderhede van die trustfonds is soos volg:
Johan van der Wath Ing,
Nedbank,
Takkode 146 805,
Rekeningnommer 146 809 01 43,
Verwysing : JK0010



