Sasol 3 klop Standerton Sables
Jannie van der Merwe het onder toejuiging die bal met ‘n reuse skop vanaf Sasol se 22m-lyn deur die oorkantste pale gestuur.

Sasol 3 het Saterdag die Standerton Sables 1 met 32-19 in ‘n ligawedstryd op Secunda geklop. Jano van der Merwe (toekant-flank) van die tuis span het die eerste punte op die telbord geplaas met ‘n drie in die hoekie.
Jannie van der Merwe se kragtige en sekuur skopvoet het die bal met gemak deur die pale gestuur om die drie te verdoel.
Hy is een van verskeie ervare spelers, soos Anwar Fillis, die vorige kaptein van die eerstes, heelagter Dirk Coetzee en PJ van Zyl wat op sy dag provinsiale en internasionale rugby gespeel het.
Die Sables se spoedvraat Kenny Kabey (regtervleuel) het kort hierna die puntetelling gelyk gemaak met ‘n blitsige drie wat deur Hendrik Coetzee (skrumskakel) verdoel is.
Sasol het toe verskeie kere in Standerton se kwartgebied aangeval maar is telkens deur die Sables se verdeding gestuit. Dit was egter Sasol binnesenter, Marcus van der Linde wat deurgebreek en ‘n drie gedruk het wat Van der Merwe weer met gemak verdoel het.
LEES OOK: Witties en Rayties pak mekaar op die rugbyveld
Van der Merwe het hierna met ‘n skouspelagtige strafdoel weer eens bewys hoekom hy in sy gloriedae onder die room van Mpumalanga se klubspelers geag was. Hy het onder toejuiging die bal met ‘n reuse skop vanaf Sasol se 22m-lyn deur die oorkantste pale gestuur.
Met nog ‘n strafdoel het Van der Merwe Sasol se punte na 20-7 opgestoot voordat rustyd aangebreek het.
Standerton binnesenter, Riaan Burger, het die eerste drie in die tweede helfte gedruk na ‘n kraglopie waar hy verskeie Sasol-spelers ontglip het en die drie agter die pale gaan plant het. Die drie is verdoel en die puntetelling was toe 20-14 in Sasol se guns.
Sasol se PJ van Zyl en Anwar Fillis het kort na mekaar vir drieë oorgeduik wat deur Van der Merwe verdoel is. Die telling was toe 27-14 in Sasol se guns.
‘n Vinnige drie deur die Sables se toekantflank, Machiel Pretorius het vir die laaste punte op die telbord gesorg voor die blaas van die eindfluitjie. Die Sables speel op 10 Mei teen die Emalahleni Eagles op Hoërskool Standerton se rugbyveld.