TRAMUS Jeugkoor lewer hoendervleis optrede
Die liedere wat gesing was sluit in 'Psalm 42', 'Thou knowest Lord', 'Hallelujah', 'Jacob's Ladder', 'All my Trails Lord', 'Ave Verum' en 'Kom Sing 'n Nuwe Lied'.
Die gesogte TRAMUS Jeugkoor van 1973 het op die oggend van Sondag, 6 November hul gehoor weggevoer toe hulle na 10 jaar weer reünie gehou het.
Lees ook: https://krugersdorpnews.co.za/?p=492449
Die herenigde koor was 40 lede sterk toe hulle die gemeente en besoekers van die NG Kerk Horison-Noord bederf het met ‘n verruklike optrede wat gesorg het vir hoendervleis en heimwee oomblikke, en selfs ‘n paar traantjies wat weggepink moes word.

Volgens Tenoor, Corrie Niemann het koorlede van sover as die Kaap, Bloemfontein, Louis Trichardt, Potchefstroom en Springs gereis om die spesiale geleentheid by te woon.
“Ons het Saterdag, 5 November bymekaar gekom en vir vyf ure aan sewe liedere geoefen. Dit was verskriklik lekker vir die koorlede om mekaar weer te sien en saam te sing. Ons het gesing asof ons nog al die jare saam oefen – en dit terwyl ons ‘n dekade laas saamgesing het,” het hy vertel.

Die liedere wat gesing was sluit in ‘Psalm 42’, ‘Thou knowest Lord’, ‘Hallelujah’, ‘Jacob’s Ladder’, ‘All my Trails Lord’, ‘Ave Verum’ en ‘Kom Sing ‘n Nuwe Lied’.
“Die aandagsjodeler waarmee ons opgewarm het is ook n gunsteling,” het Corrie met ‘n glimlag vertel.
“Een van die sangers het selfs ‘n waarskuwing van haar foon gekry dat sy blootgestel is aan 90 desibel wat tydelike doofheid kan veroorsaak. Dan weet jy die koor sing nou lekker uit volle bors.”

Nodeloos om te sê het die gehoor hul behoorlik verwonder aan die engelstemme wat van die verhoog af gevloei het. Corrie meen dit was ‘n wonderlike belewenis en meen die gemeenskap het nog nie die laaste van dié harmonieuse groep gesien nie.
“Ons oorweeg dit om ‘n volledige konsert in ‘n geskikte lokaal aan te bied iewers in die toekoms. Dit sal altyd vir ons verskriklik lekker bly om saam te sing.” het Corrie ten slotte vertel.
Luister hier na hul opvoering van ‘Ave Verum’: https://www.youtube.com/watch?v=4sTQcXWVnuk




