Neels en sy wederhelf is uitgenooi na die waterski-pretdag op die Vaalrivier. Die wilgerbome swiep welig oor die helderskoon water. Die rivier is breed en verleen genoeg spasie vir brullende V8 Mercury kragbote wat pronkende skieers oor die golwe laat swiep. Die skapies draai en die geur van aangebrande poetoepap hang in die lug. Rooi Koos se seun is ‘n voor-op die-wa skieer wat kan slalem asof hy professioneel bevoegd is. Hy is voorwaar ‘n vernuftige knaap op die water. Kyk hoe rats wip hy van die ski af en land langs sy doedie op die oewer! Aardjie na sy vaartjie, prewel Koos deur sy snorre en grinnik van tevredenheid.

Selfs Neels het ‘n paar draaie oor die water gemaak en toe hy grootmeneer wou speel met ‘n sierlike draai wat reenboog teen die son gooi, gee sy regterknie mee. Dieselfde gebeur met ‘n perd se voorste skokbreker voordat die kombinasie knipmes met stofwolke en losklippe wat die son verduister. Hoeveel kurktrekker rolle Neels uitgevoer het is ongelukkig nie aangeteken nie. Die geluk het hom bygebly en hy kruip dronkkop teen die oewer op. Die manne lig hulle skuimkoppe en onder gedempte toejuiging sluit Neels by die feeskommando aan. Toe bieg Neels ‘n stukkie wysheid: Vandag verstaan ek nogeens die gesegde, skoenmaker hou jou by jou lees. Ek is net ‘n Lorriesmous en verkoop niks op die water nie. Die groep se bulderende erkenning weerklink tot aan die oorkantste oewer aan die Vrystaat kant.

In die laaste kwartier voor die millennium oorslaan, stap drie netjiese menere Neels se kantoor binne. Buite staan hulle blinkgoue 450, met Swaziland registrasienommer, opsigtelik geparkeer. Elkeen is gesuit en gewapen met ‘n laptop. Peter, die segsman, kyk Neels reguit in die oë en verduidelik die rede vir hulle besoek. Hulle opdrag van die Hoofman is om vier nuwe 2644 perde te koop. Heel nederig merk hy op: Ek sien daar staan vier nuwes in julle voorraad. Jy’s gelukkig Peter, hulle is oorskot van ‘n groot bestelling. Vanoggend het die kliënt laat weet hy vat vir eers net die agt 2644 wat ek laasweek afgelewer het. Hierdie vier perde het vir jou gewag. Die aanbod om te koop is onderteken, faktuur oorhandig en Peter onderneem om voor die week toemaak, die bank-oorplasing te bevestig.

Neels is besig om die vier lêers op te stel toe sy rond en gesonde direkteur voor hom plaasneem. Vanwaar ken jy hierdie hooggeplaastes uit die Buurland, wil hy weet. Iemand het hulle gestuur, Meneer, antwoord Neels met eerbied. Maak net seker die betaling is bevestig voor die wiele rol, is die slimman se opdrag. Maak so, Meneer, dis my verantwoordelik; Neels geniet hierdie wipplank spel. Soms vervies hy hom vir die raadgewers op die kantlyn met ‘n kortaf, die lug is blou! Hierdie keer het hy hom weerhou. Vrydag, kort voor etenstyd, stap Grootmeneer Neels sy kantoor binne. Hier is die… die bevestiging van die faktuur se vereffening, stamel die twyfelagtige Thomas. Roer jou litte met die aflewering. Ek het hierdie syfers nodig om die kwartaalbegroting nek om te draai. En daar spaander hy, sonder ‘n handruk van erkenning, om optyd te wees vir sy ete-afspraak. Maandag-oggend is hy weer terug vir die weeklikse vergadering. Neels skud sy kop in dankbaarheid dat hy nooit bestuurder geword het nie. Dit moet blerrie eentonig wees om dieselfde patroon te volg, selfs dieselfde sinne op te sê!

LEES OOK: Die Lorriesmous: Brood vir my Broer
Maandag-oggend moet Neels en sy drie kollegas bontstaan onder die herhalende salvos. Daar word op Koot aangelê omdat sy bladsy nog skoon is vir die maand. Neels steek sy hand op: Meneer, ek het sover ‘n blinkmaand, kan ek die Swazilandtransaksie vir my struikelende kollega aanbied? Die stilte in die raadsaal hang giftig in die lug. Dan bulder die bestuurder soos ‘n gekweste ondier: Niemand durf my outoriteit verkleineer nie, allermins nie jy nie, Neels die gesiene lorriesmous. Lewer jy daai vier 2644 perde af en dan sal ek besluit wie kry kommissies of nie. Net daar storm die rooigesig gekweste buffel uit die raadsaal. Neels kyk sy kollegas met ‘n grynslag aan en prewel gemaak ernstig: Die vergadering is verdaag, meneer se bloeddruk het die klokkie gelui.

Een van Neels se slegte gewoontes was om ‘n saak te oordink. Nou bevind hy hom weer tussen die toue met die Peter-sage. Dan klink een van sy leermeesters, ‘n kort beneukte Ier, se laaste toetsmetodes op:
‘After all is said and done, what can go wrong?’
Net daar besluit Neels om vertragingstaktiek toe te pas. Hy gaan Peter in kennis stel dat sy aflewering met vier tot vyf dae vertraag is deurdat ‘n opgradering op die remstelsel gedoen moet word. Peter is hoog die hoenders in toe Neels hom in kennis stel. Neels bied aan om sy betaling terug te swaai dog Peter skrou en dreig dat hy sy trokke oor ‘n week kom haal, anders dagvaar die Swaziregering vir skadevergoeding. Neels het die gesprek opgeneem. Meneer Gous van die groot bank het hom die binnegoed van bank oorplasings verduidelik. Alhoewel die bevestiging van ‘n elektroniese oorplasing onmiddellik uitgedruk word, is die groot masjienerie van ‘checks en balances’ steeds aan die werk. Hierdie proses kan tot vier werksdae beslaan. Neels laat nie op hom wag nie en klop aan die direkteur se deur. Kom binne, bulder die ongeduldige uitnodiging. Neels stap met ferm tred binne en neem plaas voor die omgesukkelde norsman en plaas die vier lêers voor hom op die lessenaar. Neels pak die bul by die horings en kry die eerste woord in: Meneer, die goeie nuus is dat ons vier 2644 perde nog in ons jaart staan. Ek het besluit om die transaksie vir ‘n paar dae te briek, sodat die betaling ryp kan word. Neels raak bewus van die dreigende storm en beur half orent terwyl hy die grootman ferm aanspreek. Meneer, asseblief, ek het inligting van die binnekringe in die bankwese dat daar steeds ‘n verrekeningsrisiko bestaan afgesien van die stukkie papier wat die oorplasing aandui. Ek het my gesprek met die kliënt op band vasgelê, luister gerus. Die transaksie is steeds aan behalwe dat my broekspype ander stories vertel. Daar is ‘n blaasgeluid oorkant Neels en laekasklanke bereik sy ore: Goed, jy weet altyd beter; loop doen jou ding, ek los jou….

Dis vandag die vierde dag en Neels moet die byl laat kap. Gister het die rekenmeester die bankstaat gewys, die bedrag reflekteer al geruime tyd. Net voor twaalf stap meneer die direkteur en twee ernstige manne sy kantoor binne. Neels word voorgestel aan die twee here van die Speurtak. Die seniorman met die weglê snor wil ‘n verklaring by Neels afneem met sy betrokkenheid by die bedrogtransaksie. Betaling is gedoen met ‘n gesteelde banktjek by Trustbank in Nelspruit. Kortliks verduidelik Neels die transaksie, asook sy voorgevoel en kennis van die bankwese. Hy laat hulle luister na sy gesprek met Peter waar hy die aflewering gestol het. Hy bly stil oor die druk wat die direkteur op hom geplaas het om af te lewer. Al wat Neels opsommenderwys beklemptoon is sy totale aanspreeklikheid met elke transaksie. Luister aandagtig menere: ek is ‘n gewone lorriesmous nimmer as te nooit sal ek iets vat wat nie aan my behoort nie. Ek respekteer my kliënte se belange, daarom koop hulle by my. Die direkteur bly agter nadat die speurders verkas het. Hy kyk Neels ferm in die oog met ‘n amperglimlag en sê: Meneer die Lorriesmous, vandag gaan ek en jy die middag afvat. Ons gaan die Duitse restaurant op horings neem. Bring jou kollegas saam, Koot ingesluit. Hy fluister in kwalik hoorbare decibels: Ek het besluit om die verlore kommisie op die Swazitransaksie uit my persoonlike rekening aan jou te betaal. Dis my skoolgeld, jy verdien elke sent!
Gelukkig het Neels sy bek gehou. Amper het hy nog meer skoolgeld gevorder as hy sy spreuk by die Vaalrivier sou aanhaal: Meneer, elke skoenmaker hou hom by sy lees.

Hannes van der Westhuizen was born, raised and educated in Pretoria. He tried varsity, did not like it and took up a job with Lever Brothers.
A colleague suggested they try being salesmen after reading a newspaper ad. On his first assignment, Hannes managed to get a large corporation in Kimberley to buy calculators and once he was handed his first commission cheque, he was hooked on sales.
Hannes was head-hunted by a truck sales company and was completely smitten. He and his proper love, wife Elma, retired to Anerley where they enjoy being beachcombers.
HAVE YOUR SAY
Like our Facebook page, follow us on Twitter and Instagram
