Inwoners is keelvol vir ondraaglike stank!
Die probleem is glo reeds verskeie kere by die Metsimaholo-munisipaliteit aangemeld.

SASOLBURG – Inwoners van Siegfried Kuschkestraat is raadop en keelvol vir ‘n ondraaglike rioolstank wat reeds maande langsaam deur hul buurt stroom.
Keelvol inwoners het hul lot teenoor Vaalweekblad bekla en gewaarsku dat die voortslepende probleem ‘n ernstige gesondheidsrisiko vir die gemeenskap inhou.
“Die riool loop deur die veld tot in die Leeuspruit en beland uiteindelik in die Vaalrivier. Die probleem is al verskeie kere by die Metsimaholo-munisipaliteit aangemeld, maar niks word daaraan gedoen nie,” sê een van die inwoners, Richard Douglas.
Daar is min hoop dat die munisipaliteit binnekort gaan optree. Inwoners se enigste hoop is waarskynlik dat ‘n wyksraadslid die stryd namens die gemeenskap opneem.

