SAWV span saam om kanker pasiënt te help
Die SAWV se netwerk strek wyd. Jaco van den Berg het die inisiatief geneem en vanuit Heidelberg het die oplossing gekom.
VANDERBIJLPARK – Wanneer die lede van die Suid-Afrikaanse Weermag Vereniging (SAWV) saamspan, is daar gou goeie resultate. Dis die naweek weer bewys.
Nadat die adjudant-offisier van die SAWV se Byekorf Eenheid, Jaco van der Berg, verneem het van ʼn gemeentelid in hul kerk wat ʼn rolstoel benodig, het hy dadelik die bal aan die rol gesit.

Hy het Frik van Niekerk van die SAWV in Heidelberg gekontak, wat ʼn rolstoel beskikbaar gestel het. Die Byekorf se eenheidkapelaan, Willem Pretorius, het op sy weg van Pretoria na Vanderbijlpark, eers die rolstoel in Heidelberg gaan haal.
Sondag het Jaco die rolstoel aan ʼn dankbare Laura Esterhuizen oorhandig. Laura het kanker. Sy het met ʼn loopraam geloop, maar die dokter het gesê dat ʼn rolstoel beter vir haar sal werk.
Sy kom nou gemakliker oor die weg danksy die weermag veterane se inisiatief.
