Vaalpark-oorlaaistasie gesluit, AfriForum soek antwoorde!
Intussen sal belastingbetalers steeds vir 'n diens betaal wat nie bestaan nie!
Die oorlaaistasie in is sowat ‘n maand gelede reeds deur die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit gesluit omdat dit glo sy kapasiteit bereik het en vullis nie verwyder kan word nie.
Die munisipaliteit se vullisverwyderingsvragmotors is glo tans buite werking.
AfriForum vereis egter antwoorde en ‘n oplossing vir die probleem van die Metsimaholo Plaaslike Munisipalitei.
AfriForum het vroeër vanjaar ook sy kommer uitgespreek oor die Metsimaholo-munisipaliteit se aanstelling van kontrakteurs om dienste te verrig terwyl munisipale werknemers en toerusting volgens berigte onderbenut word.
“Die munisipaliteit se antwoord was dat die kontrakteurs slegs aangestel word waar spesialiswerk vereis word of waar daar onvoldoende munisipale kapasiteit bestaan.
“Die huidige situasie by die Vaalpark-oorlaaistasie strook egter nie met dié versekering nie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.
“Die situasie hou ernstige gesondheids-, veiligheids- en omgewingsrisiko’s vir inwoners in.
“Dit is onaanvaarbaar dat ’n munisipale oorlaaistasie vir so ’n lang tydperk buite werking is omdat die munisipaliteit nie sy eie voertuie operasioneel kan hou nie,” sê Pretorius.
Intussen word inwoners aan swak dienslewering blootgestel terwyl belastingbetalers steeds vir hierdie dienste betaal.
“Die vraag wat inwoners tereg vra, is waarom die munisipaliteit steeds groot bedrae aan kontrakteurs bestee terwyl sy eie voertuie onbruikbaar staan.
“Daardie geld behoort eerder aangewend te word om die munisipale vloot te herstel en dienslewering te normaliseer,” sê David Wright, voorsitter van AfriForum se Sasolburg-tak.
AfriForum wys daarop dat die Grondwet munisipaliteite verplig om dienste op ‘n volhoubare wyse te lewer en ’n veilige en gesonde omgewing te bevorder.
Daarbenewens plaas die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelselswet 36 van 2000 en die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur 56 van 2003 ’n plig op munisipaliteite om openbare hulpbronne doeltreffend te bestuur en noodsaaklike dienste te verseker.

In ’n skrywe aan die Metsimaholo-munisipaliteit het AfriForum onder meer geëis dat die munisipaliteit binne sewe dae verduidelik:
- waarom die oorlaaistasie reeds ongeveer ’n maand lank gesluit is;
- hoeveel vullisverwyderingsvoertuie tans buite werking is;
- watter stappe gedoen word om die voertuie te herstel;
- hoeveel geld gedurende die huidige boekjaar aan kontrakteurs vir vullisverwydering bestee is; en
- wanneer inwoners kan verwag dat normale dienslewering hervat sal word.
“Ons sal nie toelaat dat inwoners die prys betaal vir swak bestuur en gebrekkige beplanning nie. Indien die munisipaliteit nie dringend optree nie, sal AfriForum die saak na die toepaslike toesighoudende owerhede verwys om moontlike wanadministrasie en vermorsing van openbare fondse te ondersoek,” sluit Pretorius af.
Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak en -buurtwag betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: Kontak vir David Wright by 083 301 9933.