Ek sê maar net… Sy heers met ‘n yster poot
RUBRIEK - Daaar is nou net een hondjie in die huis oor, maar sy regeer haar onderdane met 'n ysterpoot. Moenie dat sy twee keer moet vra nie!
RUBRIEK – Kleinsus Antjie is nou al hondjie in die huis. Haar ouer “sussies”, Her Royal Naughtyness Heidi en Baba Bessie is albei die afgelope ses maande oorlede. Sy mis hulle, maar sy het nou alle mag in my huis en Johan se huis.
Saterdae jaag sy my aan totdat ek haar en al haar bagasie, van mandjie tot kos, in Myse Ford Mich gelaai het. Dan gaan ons by haar tweede huis kuier. Sy is Johan se persoonlike stertjie. Hy kan nie twee treë neem nie, dan is sy by.
Gisteraand kuier ons te lekker in die kombuis. Antjie se mandjie langs my op die vloer. Sy verdwyn onder haar kombers. Ons trap suutjies oor die mandjie. Wil haar nie steur nie.
Groot was my verbasing toe ek in sy ma se kamer kom en daar is sy op die bed! Lankal uit die kombuis gesluip en summier by haar nuwe ouma gaan gesels, waar sy opgetel is en lekker saam televisie gekyk het.
Woensdag staan ek soos gewoonlik baie vroeg op om artikels te skryf. Woensdagmiddag is spertyd vir die Vaalweekblad, so Woensdae is skryfdag vir my. Kleinsus Antjie slaap.
Sy slaap altyd laat. Maar nie Woensdag nie. Skaars die rekenaar aangesit, toe hobbel sy op haar drie gesonde beentjies gang af.
Ek staan op. Gaan sluit die agterdeur oop dat sy gou ʼn draai kan loop. Sy is vinnig terug. Kyk vir my. “Gaan slaap. Dis donker,” sê ek. Sy is gang af.
Ek gaan sit, maak my notaboek oop. Antjie is terug. Brom en grom en kla my aan met ʼn beskuldigende kyk.
Ek besef ek het haar nie gaan toemaak nie. Staan weer op en volg haar kamer toe, maak haar kombers weer mooi in haar mandjie. Antjie klim in. Ek maak haar toe. Dog daar is nou vrede. Toe nou nie. Sy kyk my gebelgd aan. Brom steeds.
Dis toe dat ek besef die bedlampie, so flou ek kan nie by die lig lees nie, is aan. Dit pla haar hoogheid. Ek sit die lampie af, en toe slaap sy totdat die son al amper middagete aandui. Min gepla met my wat swoeg en spartel agter die rekenaar.
