Bewyse word geëis vir Ngwathe-munisipaliteit se 86%-watergehalte-aanspraak
AfriForum wys daarop dat ’n plan op papier nie dieselfde is as skoon water wat uit inwoners se krane vloei nie.

PARYS – AfriForum dring by die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit aan op die bekendmaking van dokumentasie wat dié munisipaliteit se bewerings, dat dit ’n 86%-nakomingspunt vir sy Waterdienste-ontwikkelingsplan (WSDP) behaal het, te staaf.
Luidens ’n mediaverklaring wat die munisipaliteit gister (4 September) uitgereik het, het die munisipaliteit met dié nakomingspunt die beste in die land gevaar.
AfriForum hou egter vol dat dié bewerings en punt nie die werklikheid van die gehalte van water en die betroubaarheid van watervoorsiening in dié munisipaliteit reflekteer nie.
Die organisasie versoek die munisipaliteit daarom om teen aanstaande Vrydag (11 September) inligting oor die WSDP te verskaf.
Die munisipaliteit moet ook verduidelik of die 86% bloot op beplanning en verslagdoening betrekking het, en of dit werklike uitvoering en voldoening aan statutêre water- en sanitasiestandaarde meet.
Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier, is ’n plan op papier nie dieselfde as skoon water wat uit inwoners se krane vloei nie.
“Die munisipaliteit se geskiedenis van langdurige wateronderbrekings, besoedelde drinkwater en gebrekkige infrastruktuur wys duidelik dat daar ’n groot verskil tussen beplanning en uitvoering kan wees,” benadruk sy.
Tekort aan water
Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) het boonop bevind dat sekere gebiede binne die Ngwathe-munisipaliteit nie elke dag water ontvang nie.
In Parys kon die munisipaliteit volgens dié bevinding slegs sowat 6 megaliter water per dag lewer, teenoor ’n daaglikse behoefte van tussen 18 en 22 megaliter.
Munisipale watervoorsiening deur tenkwaens en JoJo-tenks was ook ongereeld en onbetroubaar.
Laboratoriumtoetse
AfriForum se onafhanklike laboratoriumtoetse het al herhaaldelik gewys op die teenwoordigheid van fekale koliforme bakterieë in Parys se kraanwater.
Die water het nie aan die nasionale standaard vir drinkwater voldoen nie en was nie geskik vir menslike gebruik nie.
Inwoners in al die dorpe wat onder dié munisipaliteit val, het boonop in die afgelope weke steeds gebuk gegaan onder wateronderbrekings en vrae oor watergehalte.
Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak, meen AfriForum sal enige werklike verbetering verwelkom, maar waarsku dat openbare aansprake deursigtig en verifieerbaar moet wees, en in die regte konteks geplaas moet word.
Burger het dr. F.P. Mothamaha, die munisipale bestuurder, uitgenooi om ’n glas water uit ’n kraan in Parys te drink en self die gehalte van water in dié munisipaliteit op die proef te stel.
Beroep op gemeenskap
AfriForum doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te bly, onreg te rapporteer en saam te werk om plaaslike regering verantwoordbaar te hou.
Kontak Burger (082 653 4281) om by AfriForum se Parys-tak betrokke te raak.
