EntertainmentNationalNews

Talentvolle Zané (5) bring eer vir Suid-Afrika

Kleuter uit Vaaldriehoek verstom Talent America se beoordelaars

 

VEREENIGING. – Waar klein Zané Britz in diepe konsentrasie op die mat lê en inkleur, sal jy nie kan raai dat dié oulike kleutertjie onlangs met talle toptoekennings in Talent America se wêreldwye wedstryde weggestap het nie!
Dié kleinding, enigste kind van Paul en Jackie Britz van Vereeniging, is waarlik met die spreekwoordelike tien talente geseën. Al is sy nog net 5 jaar oud, kan sy reeds soos ‘n gebore entertainer sing, dans en toneelspeel. Sy kan ook vol selfvertroue op die loopplank dartel en draai.

Maar dis nie al nie: Haar golwende blonde hare en intelligente blou oë herinner mens aan ‘n pragtige engel in ‘n Da Vinci-skildery, en daarby is sy ook geseënd met ‘n sonnige, liefdevolle geaardheid wat haar dadelik in ‘n mens se hart laat inkruip.

Hoewel haar ouers haar net as ‘n “gewone dogtertjie” wil laat grootword, het Zané van ‘n baie jong ouderdom af self reeds ‘n passie om nuwe vaardighede aan te leer en ‘n wil om te presteer. Sy het op driejarige ouderdom met opleiding op verskillende terreine begin, en ontvang nou onder andere opleiding by Juanita Oosthuizen van Chantenique Modelskool, ballet by Ill-Rika Booyens van Centre Stage Dance Academy, en drama by Claudette Theunissen van Purple Curtain.

Zané is ook baie geheg aan haar tannie Clio, wat altyd gereedstaan om haar na aktiwiteite toe rond te ry of met huiswerk te help.

Nadat Zané verlede jaar uitmuntend by Talent Africa gevaar het (8 goue, 1 silwer- en 1 bronsmedalje) en haar provinsiale en nasionale kleure verwerf het, het sy deurgedring na Talent America. Weens die wêreldwye inperking moes deelnemers in November verlede jaar video’s van hul optredes by Talent America indien, wat toe gedurende Desember tydens die beoordeling lewend uitgesaai is en wêreldwyd op Zoom gevolg kon word.

Die beoordelaars en toeskouers was sprakeloos oor dié fyn Suid-Afrikaanse meisietjie se optredes en sy is met die volgende toekennings bekroon:
Model Runway Casual – 1ste plek.
Photogenic Headshot – 2de en 3de plek.
Dans Lyrical – 1ste plek.
Drama Poetry – 1ste plek.

Zané het bykomend ook die volgende toekennings vir Suid-Afrika ingebring: Female Top Model – Runway; Tri-Star Award; en algehele wenner in haar ouderdomsgroep. Sy het ook die Pinnacle Award ontvang en is boonop aangewys as ‘n finalis in die afdelings vir “Talent America Female Model of the Year” en “Entertainer of the Year” in haar ouderdomsgroep.
Plaaslik kan Zané ook spog met die titel as 2021 se “Face of Chantenique” (Petite – algeheel) en was ook reeds in ‘n advertensie vir ‘n internasionale opvoedkundige liggaamsbewegingsprogram.

Buiten sing en dans, inkleur en popspeel, is Zané ook ‘n ware “free spirit” wat graag buite speel. Sy het ‘n groot liefde vir diere en wil graag eendag ‘n veearts word. “Sy het ‘n baie sterk verbeelding en ons moet gereeld maak asof ons beseerde diere is sodat sy ons kan ‘verpleeg’,” sê Ma Jackie laggend.

Vir Zané se ouers is dit eerstens belangrik om ‘n sterk, Christelike waardestelsel by hul dogtertjie vas te lê. Daarna kom toekomsdrome soos om haar te ondersteun as sy eendag verder wil studeer en wil inskryf vir die Mej. SA-kompetisie. Hulle hoop ook dat sy eendag ‘n rol in ‘n Disney-reeks sal kan speel.

Die Britz-egpaar het lank op Zané se geboorte gewag en moes deur die hartseer van verskeie mislukte swangerskappe gaan voordat sy op 19 Mei 2015 gebore is – in baie opsigte ‘n wonderkind. “Ons is so trots daarop om Zané se ouers te wees. Dit is ‘n eer om deel van haar lewe te wees,” sê Jackie.

Klein Zané Britz is nie net talentvol en besonder mooi nie – sy het ook ‘n liefdevolle geaardheid en is mal oor diere.

*******************************************************************************

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button