Dit was wraggies die goeie ou dae
Meer as drie dekades later en ek onthou steeds daardie Bijler toere in die Julie skoolvakansies.
Ek is ‘n oud-Bijler. Vir die oningeligtes, dit beteken ek was ‘n leerling aan die Hoërskool Vanderbijlpark. Klas van ‘89. Ek het geleef vir die Julie-vakansies.
Ons skool het ons eie groot busse gehad. Die ou rooi bus was gewaarborg om met elke toer êrens ‘n pyn te ontwikkel en te breek. Ons het dit almal geweet, dit so aanvaar en steeds van die bus gehou.
Die wit bus het met die skool se wapen op gespog en het minder streke uitgehaal. Ek het vier keer op skooltoere gegaan in daardie busse.
Ons hoof, mnr. PW Pieterse, het daar anderkant Gravelotte op Rubbervale ‘n kampterrein gehad waar ons gebly het.
Sy twee oudste seuns was toe studente en is ingespan om bus te bestuur, te help met kosmaak en die klas van dinge.
Die een was baie kwaai, die ander een het saam met ons kampvuurkonserte gehou.
Ek onthou goed hoe ek en my vriendin, Marina, een dag weer op kombuisdiens was.
Daar was elke dag ‘n span op kombuisdiens om uit te help met alles en nog wat. Soos om die groot suikerbak vol te maak.
Die sak met suiker was swaar. Die bak waar dit moes in het nie vir my gelyk na die tipe wat sal stilstaan as mens dit wil vol maak nie.
Pieter het ons al ‘n slag aangepraat oor wat met ons gaan gebeur as ons die suiker op die kombuisvloer mors. Dis toe dat ons buite gaan staan.
Hy kom weer verby en waarsku: “Haal daardie lepel uit die bak uit. Moenie my kom vra vir hulp as julle die lepel onder in die bak vergeet het nie.”
Ag ja. Minute later vang hy ons uit waar ons ons bes probeer om die lepel onder uit die houer te haal sonder om die suiker te mors!
‘n Ander keer is die hele groep vir die dag by die Blydepoortdam, as ek nou reg onthou.
Hy hark vir my, Marina en sy suster nader om vrugteslaai te maak vir middagete se nagereg.
Ek moet bieg, ons het bietjie halsstarrig aan daardie papajas begin skil, maar uiteindelik het ons die taak vreedsaam voltooi.
Totdat hy weer kom skoor het. Ons het die groot bakke met vrugteslaai voor ons gehad.
Wat sy sus besiel het weet ek nie, maar die volgende oomblik toe laat val sy ‘n heel papaja in die grote bak en spat hom vol vrugteslaai.
Dit was die vinnigste wat ons drie verdwyn het! Hy het ons gelukkig darem vergewe … later, heelwat later.
Vrugteslaai was elke dag deel van die spyskaart. Dit het bestaan uit papajas, piesangs en lemoene, aangery deur die boere van die omgewing.
Wie ook al op kombuisdiens was vir die dag het vrugteslaai gemaak. Dromme vol. Geen vrugteslaai daarna was nog ooit weer so lekker nie.
Ons het wel soms bietjie gemors ook. Elke jaar is van die nuwelinge (die op hul eerste toer) geroep om te kyk hoe lyk popowurms.
‘n Popowurm kan net van baie, baie naby beskou word. Die gelag was groot as die jongeling se gesig in die papaja gedruk is.
Daar was kampvuuraande waar die naguile die vroeë slapers wakker gemaak het om te hoor “waar is die ossewa se sleutels?”
Konsertaande waar daar baie verskuilde sang en drama talent ontdek is en nagte waar ons so baie spookstories vertel het, ons het naderhand geglo die houtkapper-spook bestaan werklik.
Deur al die avonture en kaskenades het mnr. Pieterse gesorg dat ons lekker eet en by plekke uitkom waar ons andersins nooit sou kon nie.
Van teeplantasies (wat nou nie meer bestaan nie) tot by ‘n brahmaan beesplaas, Modjadji se broodbome (haal my hoed af vir ons busbestuurders wat daar uitgery het) en die treinrit.
Die trein wat verby Rubbervale geloop het was ‘n goedere trein, maar eendag toe stop daardie trein met ‘n passasierswa gehak spesiaal vir ons.
Ry ons met groot lawaai saam tot op Hoedspruit waar mnr. Pieterse en sy vrou, tannie Karien ons met middagete ingewag het.
Daarna het ons weer die trein gehaal tot by Rubbervale. Ons was blykbaar die eerste (en ek vermoed die laaste) passasiers op daardie trein in baie dekades.
Dit was die beste van tye. Daardie toere het my gevorm, my toekoms bepaal en hoërskool die moeite werd gemaak.
Nou wonder ek net, waar is die ossewa se sleutels?
