Manie kry sy eie roos… sonder dorings!
Manie, wie se sangstem sterk aan dié van Bles Bridges herinner, se pad na beroemdheid het ook soos dié van Bles in die Vaal begin
Die gewilde sanger, Manie Jackson, se hart klop steeds 100 persent vir die Vaaldriehoek, al moet sy plaaslike bewonderaars hom toenemend met nasionale musiekliefhebbers deel.
Manie, wie se sangstem sterk aan dié van Bles Bridges herinner, se pad na beroemdheid het ook soos dié van Bles in die Vaaldriehoek begin.
Hoewel hy teen 2010 reeds ‘n bekende naam in die Vaaldriehoek was, het Vaalweekblad in Oktober daardie jaar geskryf dat die aantreklike jong man met die doopnaam Emmanuel Jackson, sy eerste CD uitgegee het.
Ons het toe al voorspel dat sy CD, Manie Jackson Manjifiek, hom op ‘n wentrajek gaan plaas. Dit het inderdaad gebeur en verskeie groot treffers en nóg CD’s het gevolg. Vandag staan Manie sy ereplek langs die land se bekendste manlike sangers van sy era, soos Steve Hofmeyr, Kurt Darren en Theuns Jordaan vol.
Om hulde aan Manie te bring het die bekende spesialiskwekery, Ludwig’s Roses, noord van Pretoria, verlede Saterdag by ‘n gesellige geleentheid ‘n nuwe roos na Manie vernoem. Die helderpienk Manie Jackson-roos is nie net asemrowend mooi nie – dit het boonop geen dorings nie!
Ludwig’s Roses het in 1971 as ‘n klein kwekery begin en intussen wêreldwye erkenning gekry met hul lieflike gekweekte rose. Dit is nie die eerste keer dat die onderneming ‘n roos na ‘n Suid-Afrikaanse sanger vernoem nie. Veertig jaar gelede is die Cora-Marie-roos bekendgestel en op Bles Bridges se 50ste verjaardag, sowat 25 jaar gelede, is hy ook met ‘n roos wat na hom vernoem is, vereer.
Manie het sy dank aan mnr. Ludwig Taschner, eienaar van die onderneming, en sy familie uitgespreek vir die eer wat na sy kant toe gekom het.
Manie het ook dank betuig aan sy bewonderaars en sy naaste mense wat hom deur die jare so getrou ondersteun – soos sy vrou, Christel, en sy ma, mev. Ina Jackson (72). Ina, wat die lirieke vir Manie se roerende lied, Dorings vir Ma, geskryf het, moes verlede Saterdag sekerlik die trane terughou toe sy ‘n stywe druk van haar bekende seun gekry het.
Die geleentheid is ook bygewoon deur die talentvolle sanger, liedjieskrywer en musiekvervaardiger, Dennis East, wat die musiek van Dorings vir Ma geskryf het.

Manie en sy vrou, Christel

Die Manie Jackson-roos

Die nuwe roos is tydens die geleentheid amptelik “gedoop”.

Mev. Ina Jackson kry ‘n drukkie van haar talentvolle seun!
****************************************************************************************************************************
