Vaalrivier-krok steeds vry, maar 3 ander gevang
Sedert 'n krokodil aan die begin van Augustus in die Vaalrivier gewaar is, was daar sedertdien relatief min verdere waarnemings.
Charles van der Merwe (Crocodile VDM) van Pongola, wat ondervinding het in die aankeer en vang van krokodille, het uit die staanspoor goedgunstig ingestem om die krokodil te vang en te verskuif.
Hy het ook uit die staanspoor gewaarsku dat dit tyd en geduld sal verg om die krokodil te vang.
Hy het vier van sy hokke gratis beskikbaar gestel vir dié doel.
Die hokke met lokaas, is langs die Vaalrivier in die gebiede waar die krokodil voorheen gewaar was, en word voltyds met kameras gemonitor.
Tot dusver het die krokodil egter nog nie die lekker hoender aan die bo-punt van die vanghokke probeer nie.
Vaal-inwoners wat dit oorweeg om self die krokodil te probeer vang, word gewaarsku dat dit onwettig is.
Die krokodil mag ook nie sommer voor die voet geskiet word nie – dis teen die wet!
Charles is tans die enigste persoon met die nodige permitte wat die krokodil mag vang en verskuif.

Foto: Crocodile VDM
Drie ander krokodille gevang
Intussen het Charles reeds drie krokodille in ander streke gevang.
“Tydens die somermaande is krokodille meer aktief en eet hulle ook meer. Ek hoop dat dit ook dieselfde uitwerking op die krokodil in die Vaalrivier sal hê sodat hy veilig aangekeer kan word,” sê Charles.
Die krokodille wat hy nou gevang het, se hokke was langer gestel as die hokke vir die krok in die Vaalrivier.
“Krokodille is uiters versigtig en kan vir lang tydperke sonder enige teken van lewe onder die radar bly,” verduidelik Charles.
Die sowat drie meter lange reptiel geniet intussen sy lewe in die Vaal-area gedeelte van die Vaalrivier, wat oor sowat 1 200 km strek.
Meld waarnemings aan
Die publiek word versoek om enige geloofwaardige waarnemings onmiddellik aan te meld.
Inligting soos die ligging, tyd en (indien moontlik) ‘n foto of video, kan op die Safety on Vaal WhatsApp-groep gedeel word.
